Local newsNews

Ek sê maar net… Smurfie-blou vingers + gom = taai hande

RUBRIEK - Dis nie aldag dat volwassenes kan knip, plak en verf soos die jongspan nie, maar dit was nogal lekker.

RUBRIEK – Ek het die geleentheid gehad om ‘n arbeidsterapieklas by te woon. Ons was ‘n bonte skare van ouderdomme en tale.

In die kamer was die tafels gedek met bruinpapier en voor elke sitplek was ‘n saamgeperste hout (ek dink) sirkel met ‘n gaatjie in die middel.

Daar was ook sponsies, glasies met water en ‘n verskeidenheid van kleurvolle servette. Dit was ‘n gedruis soos almal eers voorskote omhang het.

Ek loer vir my tafelgenote, maar die meeste lyk heel gemaklik. Elkeen het sommer al klaar ‘n servet beet en dié was toe blykbaar nie vir mond of neus afvee nie.

“Ons gaan vandag horlosies maak,” verklaar die jonge arbeidsterapeut. “Wat regtig gaan werk,” voeg sy toe so ewe by. Seker my gesig gesien.

Daar sit ek toe en al wat ‘n mooi servet het al hul sit op die ander se sirkels gekry. Vlak voor my sien ek toe darem ene in so mooi blou en wit.

Let wel, nie Blou Bul blou nie, ek is ‘n Leeu, meer ‘n helder hemelblou. Laat mens sommer aan Griekeland dink al was ek nou ook nog nooit daar nie.

Ek sien my tafelbure is almal daar na ‘n hoek toe en dis toe waar jy die verf kry. Die sirkel moet geverf word.

Ek kry ‘n mooie blou in die hande, beloer al die kwassies en my brein seg dit gaan te lank vat. Die sponsie-ding gaan eerder werk.

Langs my is ‘n kunstige dame besig om verskeie kleure so kol-kol op haar sirkel los te laat. Net om later deurmekaar te verf en wraggies dit lyk toe nou heel mooi.

My naels en vingerpunte is binne minute smurfie-blou maar ek vorder. Toe die sirkel na wense toegeverf is, sien ek almal tou na buite waar die kunswerke in die son gesit word vir droog word.

Die kunstige buurvrou roep my terug, beduie ek moet die bordjie voor die groot waaier hou.

Iewers in die klas hoor ek iemand het gedog die wit gom is wit verf, maar dit was gelukkig nie ek nie.

Die tweede rondte breek aan. Jy plaas jou servetjie so in die middel en dan verf jy die hele ding met gom. Dan staat jy weer in die son vir droog word en doen dit ‘n tweede keer.

O ja, en jy moet onthou om die gaatjie in die middel van gom te bevry anders kan die horlosie se masjientjie nie vaskom nie.

Oor presies hoe om die masjientjie aan die agterkant regop te kry en die wysers voor ingedruk te kry sal ek nou nie uitwei nie.

Dit was ‘n gedoente, want teen daai tyd was ek nie seker of ek gom of verf op my hande het nie.

Hoe dit ook al sy, my horlosie werk. Wat ek met die horlosie gaan maak weet ek nie, maar dit was ‘n goed voel ondervinding.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button