Vakatures by AfriForum Sasolburg-takbestuur
Wil jy ’n bydrae tot Sasolburg en die plaaslike gemeenskap maak? Is jy gereed om jou kennis, ervaring en tyd terug te ploeg in jou gemeenskap? Dan is dit nou jou geleentheid.
AfriForum se Sasolburg-takbestuur het vakatures in die volgende portefeuljes: ondervoorsitter, tesourier, buurtwagleier, plaaslikeregeringsbeampte en jeugbeampte.
Kontak Johan Hayward by 073 885 1365 vir meer inligting hieroor.
Indien jy andersins by die tak wil inskakel kontak Braam Muller by 076 125 7773.
Aktiewe betrokkendheid in gemeenskap
AfriForum se Sasolburg-tak het onlangs weer moue opgerol om sowat 4 ha se gras te sny, bome te snoei, rommel op te ruim én die netheid van sypaadjies te verseker.
Hierdie keer is die tak se aandag toegespits op opknapping van Hertzogstraat, President Reitzweg, Van der Bijlstraat sowel as die terrein agter die Ons Gryse Jeug-sentrum vir bejaardes en die terreine by Noordskool.
Dié onlangse opknappingsaksie volg op verskeie aksies wat reeds sedert die begin van die jaar in Sasolburg aangepak is met die doel om die dorp se openbare ruimtes in stand te hou.
Teen die einde van Februarie is reeds sowat 54 ha gras gesny, ’n verdere 4 ha skoongemaak en 40 sakke teer ingespan vir die opvul van slaggate.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder van die Mooirivier-streek, is die reusebydrae van gewillige gemeenskapslede in hierdie projekte onmisbaar en is dit die rede waarom hierdie aktiewe tak soveel werk kan aanpak.
“Die feit dat die gemeenskap betrokke is by die instandhouding van die dorp, maak ’n reuse verskil.
“Ons moenie die verval net aanvaar nie. AfriForum sal voortgaan om druk op die plaaslike munisipaliteit te plaas in ’n poging om dienslewering hier te verbeter.
“Intussen sal ons egter voortgaan om self ook te bou en as ’n aktiewe gemeenskap ’n positiewe verskil in die toekoms van Sasolburg te maak,” sê Pretorius.
