Rubriek: Laaste drukkie vanuit die graf
Lewe is kort koester jou vrinne en familie
Dis nou amptelik. Ek het die ouderdom bereik waar ek meer begrafnisse as partytjies bywoon.
Dit is kommerwekkend en effens hartseer om die minste te sê. Vroeër vandeesweek het die Vaaldriehoek een van sy lieflingseuns gegroet.
‘n Legende. Marius Dreyer se goue stem is vir ewig stil. Hy was net 62 jaar oud. Hy het nog soveel planne, drome en woema in hom gehad. Ek het gedog ek kon in die agterste ry van die kerk wegkruip.
Wegkruip vir die harde realiteit. Wegkruip vir die hartseer. Sy foto wat lewensgroot op die skerm vertoon het, het my plan bederf.
Sy stoute glimlag en diep oë sny diep deur my wese. “Goeie liewe môre, tjom. Ons moet bietjie gaan koffie drink,” het hy twee weke gelede nog vir my gesê.
Dit het nooit gebeur nie. Ek was mos te besig. Ek weet hy wou iets met my deel, wat dit was, sal ek waarskynlik nooit weet nie.
Ek kon myself nie sover kry om die hele skyfievertoning in die kerk te kyk nie.
Ek het agter my sonbrille probeer skuil al was dit te donker daarvoor. Ek wou my trane wegsteek.
Die poorte na my siel sluit. ‘n Buffer tussen my en die ander mense plaas. Toe besef ek meteens. Hoeveel keer die eie ek opduik.
Ek dit en ek dat. Dit gaan mos nie oor my of oor jou nie. Dit gaan oor die familie en die donker pyn van die dood wat die mens se siel oopkloof. Manie Jackson sing te mooi, maar die woorde glip by my een oor in en by die ander een uit.
Gemeet aan die voetspore wat Marius in duisende mense se harte gelos het, het ek myself ‘n massiewe begrafnis in my geestesoog voorgestel.
Dit was kleiner as wat ek verwag het. Die lewe is gejaagd en regstreekse uitsendings op YouTube maak dit makliker om afstand te oorbrug, maar ek glo steeds vas dat mense deesdae begrafnisse vermy.
Om ‘n hartseergesiggie op Facebook te kliek is mos makliker en voldoende? Of is dit? Ek moet bieg.
Dit was vir my bitter moeilik om in die vlees te gaan afskeid neem. Wat sê mens behalwe al die standaard clichés wat met begrafnisse gepaardgaan?
Maar ek is bly ek het gegaan. Hy het ‘n laaste geskenk vir my gehad. Terwyl ek sy weduwee ‘n simpatieke omhelsing gee, sukkel ek om ‘n woord uit kry. Dit klou soos grondboontjiebotter in my keel.
Uiteindelik spoeg ek die woorde soos ‘n hakkelaar uit: “Jammer ek het nie woorde nie.” Kalm en saggies vertroos sy my: “Toemaar ek verstaan. Hy het altyd na jou opgekyk.” Wat? Met ‘n verwarde glimlag draai ek weg om haar seun te groet en my medelye betoon.
Dit is toe dat ek besef hoe min ‘n mens werklik van mekaar weet. Het Marius werklik geweet hoeveel mense na hom opgekyk het? Ek het. Ek het net die ander dag gekla dat ek emosioneel uitgeput is.
Sielsmoeg om doodsberigte oor vriende en vreemdelinge te skryf. Maar ons almal het ‘n plek en ‘n doel in die lewe het hy altyd gesê.
Selfs vanuit die hiernamaals het my ou vriend daarin geslaag om my vir oulaas op te kikker. Wanneer ek besin en terugkyk op al die vriende wat ek oor die jare aan die dood afgestaan het, is ek eintlik ‘n ryk man.
Dankie ou Marius dat ek deel van jou lewe kon wees. Dankie vir die saam lag en die saam werk.
Dankie vir jou humorsin. Dankie dat ek die voorreg het om oor legendes te skryf. Dankie dat ek na jou kon opkyk! Nag ou grote!
