Spoed en modder is vir hom die lekkerste lekker
Ontmoet Cooper Jackson, hy is gek na spoed al het hy nou al 'n slag bo-oor sy fiets se handvatsels geduik.
VANDERBIJLPARK – Cooper Jackson (graad 4) in sy skoolklere is heeltemal anders as Cooper Jackson (nommer 388) aan’t jaag op sy veldfiets.
Onlangs het hy aan die GXCC Cross Country kampioenskappe deelgeneem en derde plek behaal.
Hou mens in gedagte dat die junior afdeling uit jongelinge van onder 18 bestaan is dit nogal ‘n groot prestasie.

Self is hy net 10 jaar oud. Sy pa ry motorfietse en sy jonger boetie se hart trek ook nou met ‘n punt na die dirt bikes toe.
“Ek hou van die groter bane. Die met die baie modder. Jy voel jy ry op ‘n plaas verby mielies en deur strome en alles,” beduie hy opgewonde.
Hy erken hy is baie vuil as hy van die fiets afklim en ek moet eers buite afgespuit word voordat hy as modder-monster by die deur kan in gaan.
Dis moeiliker om sy fiets weer perfek skoon te kry. “My pa het al vyf weke gesukkel om al die modder uit al die hoekies en plekke te kry,” vertel hy.
Cooper het in graad R begin om resies te doen. “Dit hou my net besig en dit is lekker om te ry.” Hy het wel so bietjie simpatie met sy ma. “My ma maak maar net haar oë toe as ry. Dit gaan alles oor spoed,” trek hy skouers op.
Hy verduidelik gou dat hy darem nie net sy dirt bike ry nie. Hy het die jaar goed gevaar in hoogspring en hardloop en hy oefen rugby om fiks te bly.
Moet hom net nie vra om te kies nie, want sy fiets sal altyd wen. “Ek ry soms teen my pa en ek het hom al amper gewen,” vertel hy trots.
Sal hy ooit ophou? “Seker maar as ek bo in die hemel is,” is sy enigste kommentaar
