DA eis ontslag van 10 Gautengse onnies wat met kinders lol
Oor die afgelope drie jaar is 40 onderwysers in ‘n hof aan seksuele misdrywe skuldig bevind

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng eis dat 10 onderwysers, wat skuldig bevind is aan seksuele oortredings, onmiddellik ontslaan word, aangesien hulle steeds met kinders in Gautengse skole werk.
Die DA beskou hierdie situasie as onaanvaarbaar, aangesien dit die veiligheid en welstand van leerders in gevaar stel.
Die onthullings het aan die lig gekom ná mondelinge vrae wat die DA in die Gautengse Provinsiale Wetgewer (GPW) gestel het.
Volgens die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het 12 onderwysers ‘n kriminele rekord vir seksuele misdrywe, en nege van hulle werk steeds in skole.
Hy het ook bevestig dat sewe van hierdie onderwysers by laerskole werksaam is, terwyl vyf by spesiale skole diens doen.
Die DA het beklemtoon dat dit geen verrassing is dat seksuele oortreders die mees weerlose leerders teiken nie – veral jong kinders en dié met spesiale behoeftes.
Verder het LUR Chiloane onthul dat oor die afgelope drie jaar, 40 onderwysers in ‘n hof skuldig bevind is aan seksuele misdrywe.
Een van hulle werk steeds vir die departement en het bloot ‘n “finale skriftelike waarskuwing” ontvang.
Die DA het in ‘n verklaring hierdie situasie as skokkend en onaanvaarbaar beskryf en daarop aangedring dat die departement verantwoordelik gehou word vir die feit dat hierdie seksuele oortreders steeds in skole toegelaat word.
