Groot breinoperasie wag vir driejarige oor twee jaar
Vaalweekblad loop al 'n pad saam met klein Nolan Marais vandat hy as baba met 'n gesplete bolippie gebore is. Ons het weer gaan inloer om te hoor hoe dit met hom gaan.
VANDERBIJLPARK – Nolan Marais het 13 Januarie drie jaar oud geword. Soos enige kleuter is hy vol energie, lief vir diere, speel en stories vertel.
‘n Mens kan net nie altyd hoor wat hy sê nie. Daar is sekere klanke wat maar net nie wil reg vorm aanneem nie, aangesien sy spraakspiere nooit aangegroei het nie.

Hy is gebore met ‘n gesplete bolip wat in sy babadae al reggemaak is en later is daar gevind dat hy erge hidrokefalie het, ‘n kondisie waar vog in sy brein versamel.
In September 2023 het hy ‘n operasie ondergaan waar ‘n nuwe paadjie en opening vir die vog in sy brein geskep is. Die operasie was ‘n sukses en Nolan het daarna baie beter geloop, fietsgery en balans gehad.
Selfs die neurochirurg het gesê hy hoef nou nie meer so gereeld daar te draai nie. Maar, so is Nolan al met ‘n sist op die regterkant van sy serebellum gediagnoseer nog voor sy geboorte.

Daar is gehoop dat die eerste breinoperasie sou help om die sist te laat krimp. Ongelukkig is daar 15 Maart tydens ‘n MRI skandering gesien dat die sist steeds daar is.
Daar is wel bevind dat dit chirurgies verwyder sal kan word. Die operasie sal eers gedoen word as Nolan vyf jaar oud is en die verwagting is dat dit ‘n groot verskil sal maak in die ontwikkeling van sy brein.
Intussen gaan hy eersdaags met spraak-en arbeidsterapie begin. Die dapper seuntjie het hom nog nooit laat onderkry deur enige van sy behandelings nie.
Hy bereik sy mylpale en is in sekere gevalle sy ouderdomsgenote voor. So kan hy al kleure, vorms, plaasdiere en meer in Engels, Afrikaans en Spaans identifiseer en noem.
Hy kan ook al sy eie naam spel en is ‘n voorbok as dit kom by spring en klim. Hy het ook van ‘n vorige besoek onthou waar moet hy die kamera se knoppie druk om sy ma of pa af te neem.
Nadat hy ‘n hele handvol foto’s geneem het, en die battery tot pap verklaar is, was sy antwoord: “Vra Google om die battery weer te charge.”
