Dan vat hul maar die trouvieringe na ouma toe!
VANDERBIJLPARK - As die berg nie na Mohammed wil of kan gaan nie, moet Mohammed na die berg toe gaan! En dit is presies wat die De Kock-bruidspaar onlangs gedoen het.
Amoré en JP de Kock van die dorp se troudag was op Saterdag, 15 Maart by Goedheid Inniskuur in Deneysville.
Dit was natuurlik ‘n hoogtepunt waarna beide se families met groot opwagting na uitgesien het. Veral Amoré se geliefde grootouers, Koos en Johanna Joubert.
Maar so net voor 09:00 op die groot dag, het oupa Koos gebel met die skokkende nuus dat ouma Johanna inmekaar gesak het en dat ‘n ambulans haar hospitaal sou neem.
Ouma Johanna het ‘n baie ligte beroerte gehad, maar moes in die hospitaal opgeneem word.
Alhoewel ouma dit blykbaar vir die hospitaal personeel duidelik gemaak het dat sy moet huistoe gaan want haar kleindogter trou.
Die dokter het egter besluit dat sy eerder maar dopgehou moet word en so kon ouma en oupa (want hy wou haar nie alleen los nie) nie die troue bywoon nie.
Die hartseer nuus het omtrent ‘n tranedal tot gevolg gehad. Eers van bekommernis, hartseer en teleurstelling en daarna van verligting en dankbaarheid dat ouma ten miste okay sal wees.

Die bruidspaar het toe besluit dat as oupa en uuma nou nie by die troue kon wees nie, dan sal die troue maar na oupa en ouma toe moet gaan.
So trek hulle Sondagoggend weer hul trouklere aan en gaan verras oupa en ouma by die hospitaal.
“Ek het Midvaal Hospitaal (saal 8) geskakel om te hoor of dit toelaatbaar sal wees en was baie vriendelik toestemming gegee (aangesien dit buite besoektye was) dat hulle dit mag kom doen.
Aangesien die ander pasiënte rus moes kry het hul die baie slim voorstel gemaak om vir ouma met ‘n rolstoel uit die saal te stoot sodat ons almal lekker in die gang kon gesels en nie die ander pasiënte kon steur nie,” vertel Annatjie Koekemoer, die bruid se ma.
* Vaalweekblad het verlede jaar Julie ‘n berig oor ouma en oupa Jourbert gepubliseer toe hulle hul 65ste huweliksherdenking gevier het. Klik op die foto om die berig te lees.

