Oor stories en trekkers, alles en nog wat
Hy gee gestalte aan die ou Afrikaanse liedjie, "ver in die ou Kalahari", maar hy is nou ook al Vaaldriehoeker in murg en been. Maak nader kennis met Oom Piet Spyker Booysen
VANDERBIJLPARK – Sy tydgenote ken hom as Spyker, sy susters noem hom Pietie en die bure praat van oom Piet. Booysen voer die oom die van.
Hy bly al vir meer as 20 jaar in Vanderbijlpark, maar ‘n stuk van sy hart het daar ver in die ou Kalahari in Molopo agtergebly.
Sy grootword jare was op ‘n plaas daar. Nou se dae dra hy vele hoede van baas van sy eie maatskappy tot pa, oupa, mes- en trekkermaker.
Die werkskamer is sy heiligdom. Lange jare gelede was dit ‘n woonstel, maar soos sy dogters gegraad en getroud is, het hy uiteindelik die woonstel vir homself gehad.
Hier is alles van duisende spykers (almal in houers gemerk) tot by spesifiek afgemerkte plekke vir elke boor, skroewedraaier en hamer.
Oom Piet het ‘n manier om so met die eerste oogopslag dwarsdeur jou oge in jou siel in te sien voor hy besluit of gaan jy verder. Betree wel die werkswinkel, sal jy iets te drinke hê nog voor jy behoorlik sit.
Die houttrekkers maak hy sommer wanneer hy tyd op hande het. Gebruik nie die draaibank nie. Nee, alles word met die hand en ‘n vyl gedoen.
Hy soek vir elke trekker ‘n spesifieke baas, een wat hy weet die trekker gaan verstaan en reg hanteer.
“Daar loop al ‘n trekkertjie in Engeland en een in die Kaap,” wys hy trots die video’s. Hy sukkel op die stadium juis met die groter trekker se ploegskaar.
Die hydrolics wil nie werk soos hy wil hê dit moet werk nie. Plan maak sal hy wel. Hy soek vir elke trekker ‘n spesifieke baas, een wat hy weet die trekker gaan verstaan,
“Ek sorg eintlik al vandat ek 7 jaar oud is vir myself. Ek is graad 1 al koshuis toe in Mafikeng (Mahikeng). Kon ook net lang vakansies huis toe gaan, so ek het geleer om na myself te kyk,” beduie hy.
Na skool is hy weermag toe. Dit was in 1975. Nadat hy uitgeklaar het, het sy pa hom drie opsies gegee. Hy kon gaan swot in Potchefstroom, hy kon ‘n bakkie kry en sy pa help boer of hy kon onafhanklik self sy weg baan.
Hy het die laaste opsie gekies en sy pa het hom die volgende oggend met R10 (baie geld vir daai tyd) in die middel van Mafikeng afgelaai.
Hy het gelukkig gou werk gekry by ‘n ingenieursfirma en het later kanonlope gebou vir die destydse Krygkor.
In 2001 het hy en 13 ander aandeelhouers hul firma in die Vaaldriehoek begin. Sy gesels maak telkens ‘n draai in die Kalahari, daar waar die boere op vertroue en geloof boer.
“As jy eenmaal daar gebly het, kom die Kalahari nie weer uit jou hart uit nie,” beduie hy. Hy is juis so lief om stories te vertel en skryf gereeld van hul neer op sy Facebookblad Oom Piet se Molopo Stories. Gaan volg en geniet.
