Ek sê maar net… Oudword is nie vir sissies nie
RUBRIEK - Dis nou maar eenmaal so, daar kom 'n tyd in elkeen se lewe waar jy meer dokters as boesemvriende het. Lees meer...
Ek het daardie ouderdom bereik wat een dokter nie meer genoeg is nie. Die een oomblik gaan dit jou wel, soos die Nederlanders sê, en jy sien net jou huisdokter, soos wat ons Afrikaners steeds praat, so per ongeluk eenmaal ‘n jaar.
Laat ek gou afwyk. Die groot woord is mos algemene praktisyn deesdae en dan praat almal van hul ‘jeeepee’ na aanleiding van die Ingelse afkorting vir general practitioner, gp.
Jare gelede het dokters huisbesoeke gedoen en daarom is dit steeds huisdokter. Maar dit nou daar gelaat.
Wat ek wou sê is… Jy dag nog jy het net die een en voor jy kan sê hier is ek nou in my 50’s dan het jy skielike ‘n lys dokters op jou foon.
Myse huisdokter ken al my giere en geite en ons verstaan mekaar in ‘n mengsel van twee tale want hy’s eintlik Ingels.
Dan is daar die ortopeed se nommer want hy moet my skroef-enkel in werkende orde hou en ek vermoed ek het oorle Ouma Bessie se rumatiekknie, so sy nommer is noodsaaklik.
Die tandarts is net eintlik vir die nommer uitgee as iemand ‘n goeie tandarts soek. Hy is briljant maar, hy is ‘n tandarts. Die oom van die brille is ook al lankal gelys en ek vermoed een van die dae sal ek die oogspesialis moet byvoeg.
Dan is daar nog my sielkundige wat ook kort-kort moet raad gee en nou het ek ‘n psigiater ook.
Kyk, in die wêreld waar ons vandag lewe vat jy alle hulp wat jy moontlik kan kry. Dis nou hoeka die psigiater van my wat soms vreemde idees het.
Sien, die man het so ‘n mooie kantoor doer ver anderkant die Jukskeirivier in Bloubulland.
Het hom nog nooit gevra of weet hy hoe lyk die Vaaldriehoek en dan spesifiek Vanderbijlpark nie, maar ek dink ek sal moet.
Gee hy my anderdag die raad dat ek moet begin stap. Sommer so vir ontspanning en bietjie oefening.
Dag ek toe waar en wanneer wil die man hê moet ek nou staptogte in Vanderbijl aandurf?
Myse ortopeed kry ‘n hartaanval as hy hoor ek stap aspris oor grasvelde met my skroef-enkel en loop mens in die pad gaan ek of swik in ‘n slaggat of omgery word deur iemand wat uitswenk vir ‘n slaggat.
Dis mos hoe dit in ons dorp gaan. Ry jy kruis en dwars oor die pad is jy nugter en ry jy reguit is jy so dronk soos ‘n tor.
Sal dit nou alles so aan my dokter moet verduidelik. Hoe dit ook al sy, vanoggend kla ‘n vriendin van my oor ‘n abses in haar tand, maar sy het gelukkig haar tandarts op speed dial al vir jare.
Stem ons toe saam, oudword is nie vir sissies nie. Waar is die dae toe my vrinne se name meer as my dokters se name op my foon verskyn het?
