805 ton teer gebruik om slaggate te vul
VANDERBIJLPARK - Die plaaslike AfriForum-buurtspan het in Maart altesaam 34,32 hektaar gras in parke en velde gesny en 139 vullissakke weggery.

Gras is in Phoenixpark, Langenhoven- en Herbertstraat en Pasteur-boulevard gesny.
Danksy die tak se slaggatprojek is 340 sakke teer (805 ton teer) gebruik om slaggate in Flora Gardens te herstel, nadat die inwoners AfriForum om hulp genader het.

Tot dusver is daar al slaggate in Anemone-, Viola-, Lupe-, en Heidelaan herstel, asook in Fuchiastraat en Belladonna-rylaan.
Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder aan die Wes-Rand, is dit belangrik dat gemeenskappe moet saamstaan teen die verval in hul omgewing omdat munisipaliteite nie meer hul verantwoordelikhede nakom nie.
“Selfdoen is verseker beter as niks doen,” sluit Blignault af.

