Eerste Two Oceans kafgedraf na vier maande voorbereiding
D.F Malherbe is trots op hul Juffrou Zan-Mari wat so goed in die Two Oceans gevaar het.
VANDERBIJLPARK – Zanmari Laubscher, ‘n finale jaar onderwysstudent wat tans diens doen by die Laerskool D.F. Malherbe, het kleintyd die Comrades en Two Oceans marathons op televisie gekyk.
Sy het toe al gereken dis iets wat sy eendag sal wil doen. Hierdie jaar het sy die Two Oceans voltooi in ‘n tyd van 6 ure en 25 minute.
Dit was haar eerste Two Oceans en sy het eers in Januarie besluit om dit te doen. In Maart het sy op die laaste nippertjie gekwalifiseer deur die Elandsvallei marathon te voltooi.
“Ek en my vriendin Ané Hartman het saam geoefen en gehardloop. Ons was ook gelukkig, want die weer was perfek om te hardloop. Mense wou weet waar kry ons twee al ons energie vandaan,” lag sy.
Om tekkie op teer te klap is darem nie heeltemal vreemd vir haar nie. Die 22-jarige Zanmari het op skool aan landloop deelgeneem en langafstande gehardloop.
Die gogga het haar gebyt. Volgende jaar gaan sy die Two Oceans weer aanvat en sommer die Comrades ook.
