Hulle gee vir almal, want hulle kan
Mense wat omgee en vir almal gee, omdat hulle wil en kan en dit sonder om iets terug te verwag
SASOLBURG – Dis nie snaaks om mense te sien wat êrens op ‘n Saterdagoggend wors braai en worsbroodjies maak nie.
Dis wel ietwat vreemd om te sien hoe mense skinkborde vol worsbroodjies en koue koeldrankbotteltjies in ‘n parkeerterrein ronddra.
Dit nogal in die reën. Hulle verkoop nie die kos en koeldrank nie. Hulle deel dit uit. Verniet. Vir almal, sonder bybedoelings of geheime agendas.

Die vrolike braaiers, kelners en die wat met sambrele rondloop om die kos darem droog by besoekers te kry, is almal deel van die Coram Deo Gemeente.
Hulle beskou hulself nie regtig as ‘n kerk nie. “Man, ons gee dit verniet weg. Kyk die mense ons snaaks aan of as hulle wil weet hoekom, wel ja, dan sal ons sê: ‘Jesus is lief vir jou’,” vertel Pastoor Hennie Jacobs.
“Ons is almal soos ‘n familie. Ons werk saam buite die mure van ‘n gebou. Dis aksies soos hierdie wat hoop bring.”
Hennie was vir jare ‘n voltydse evangelis en het 35 lande besoek. Nou is hy en sy gesin al 20 jaar in Sasolburg. “Wat ek nog moet doen, moet ek hier doen,” beduie hy met oë wat vonkel.
“Terwyl jy nou skryf, nooi sommer almal uit na ons Kruisfees van 13 tot 20 April. Op 15 en 16 April is ons gassprekers Joshua na die reën en Johan Koornhof. Alles is gratis. Spoor ons op by 24 Oerdersingel,” sluit Pastoor Hennie af.
