Van kunstenaar tot Die Chutney Man
Harde werk en kreatiewe vindingrykheid het van 'n droom 'n werklikheid gemaak.
SASOLBURG – Martin Potgieter was op sy dag ‘n kunstenaar, totdat hy een nag gedroom het hy maak chutney, of dan blatjang in Afrikaans.
Hy het met turksvy blatjang begin en dit het goed gegaan totdat hy eendag ‘n dorinkie in sy oog gekry het. Na baie pyn en ‘n lang herstelproses het hy besluit om weer te probeer.
Sewe jaar later en hy het al 17 verskillende soorte blatjang en mosterd wat hy met sukses maak en verkoop.
“Ek kry my idees van kliënte af,” vertel hy. So voeg hy net al hoe meer soorte by sy arsenaal van geure. Martin maak alles van spekboom blatjang tot knoffel en mild mayo.
“My Girl is die warmste,” lag hy. “Ek het aan die begin baie gesukkel en vele kooksels het in die asblik beland.
My arme buurman moes altyd alles proe. Nou se dae gaan dit beter. Martin se blatjang word gereeld na ver plekke soos Botswana en Kalahari toe gestuur.
“Ons is soos gypsies wat elke week van een dorp na die ander gaan om Die Chutney Man se stalletjie te beman en ons Facebook volgelinge groei ook mooi,” glimlag hy trots.
