Local newsNewsNews

Rubriek: Sibbe, sadisme en sarkasme is ‘n resep vir chaos

So wals ek salig onbewus by die klein supermark in Helena Lochner straat in met my nuwe stywe gimonderbroek.

Nostalgie en sibbe gaan hand aan hand. Maar nie alle terugflitse of herinneringe is noodwendig positief nie.

Vroeër vandeesweek het ek paar sulke oomblikke uit my prille jeug herleef terwyl ek na ‘n episode van Two and a Half Men gekyk het.

In die episode kom dit uit dat die hoofkarakter Charlie na dekades erken dat dit hy was wat ‘n speelding in sy broer se broeksak gedruk het wat daartoe gelei het dat Alan vir winkeldiefstal aangekeer is.

Ek is geseënd met twee sibbe. ‘n Suster en broer wat onderskeidelik nege en vyf jaar ouer as ek is. Almal weet laatlammetjies kom met moord weg en in sekere gevalle is dit seker so. ‘n Ander lewenswaarheid is dat wraak ‘n dis is wat koud bedien moet word.

As daar een ding is wat my broer verpes is dit kaaskrulle. Sommer alle chips. As jy chips geëet het moet jy hom nie eers groet nie. As kinders het ons daarvan gehou om die sagte ys wat aan die binnekant van ons ou yskas se vrieskompartement was te eet.

My oudste sib kom toe met die voortreflike idee vorendag dat ons ‘n giggelgeel kaaskrul met die einste sneeuys – soos ons dit genoem het – te bedek en vir my broer te gee om te eet.

Wat gevolg het, was die vloermoer van ‘n dekade en jaagtog om die huis met hom wat ‘n strooibesem woes rondswaai. Ek is nou nie bekend vir my vaart of langasem nie, maar soos hulle sê as ‘n leeu jou jaag hoef jy net vinniger as jou tjommie te wees.

In die geval het my suster se asmatiese longe my gered. Wraak en ‘n geheue soos ‘n olifant is ‘n gevaarlike kombinasie.

Hoewel hy dit nie wil erken nie glo ek steeds vas dat my wardrobe malfuntion jare daarna met voorbedagte rade deur hom gepleeg is.

In die vroeër 90’s het my broer in die Slater Gyms geboer en vir my was dit die lekkerste ding om die gymklere wat hy met sy hardverdiende vakansie en naweekwerk gekoop het, te kaap.

In die 60’s was minirokkies in die mode, bell bottoms in die 70’s en in die 80’s het legwarmers en leotards opslae gemaak.

In 1990 het Jockey ‘n nuwe stel onderklere uitgebring wat soos ‘n kortbroek gesit het en knopies voor gehad het.

Ek dink ek was standard sewe of agt toe my broer vir hom so stel of twee hiervan aangeskaf het.

Toe ek navraag doen sê hy vir my dat dit sy nuwe gimbroekies is. Dis mos my sein om sy nuwe uitrusting uit te toets.

So wals ek salig onbewus by die klein supermark in Helena Lochnerstraat in met my nuwe stywe gimonderbroek.

Daar is hoeka ‘n mooi jong meisie agter die toonbank by wie ek al voorheen vlerk gesleep het.

Daardie dag was sy oorvriendelik en het die heeltyd geglimlag en vir my gekyk. Almal het vir my gekyk. Dit moet daai nuwe beenoefeninge wees wat ek doen, dink ek by myself.

Terug by die huis rol my oorlede swaertjie op die gras rond soos hy lag toe ek by die kar uitklim. “Waarheen was jy orals?” vra hy my.

Hoe meer ek vertel hoe harder lag hy. Ek is smoorkwaad en wil weet waaroor hy lag.

Nadat hy sy asem teruggekry het en mooi verduidelik het waar ek gefouteer het, het ‘n skaamte en nuwe wreedaardige woede my beetgekry.

Ek het die grootste pak jeukpoeier wat ek kon kry in my geliefste broeder se bedlakens gestrooi.

Hoewel sy gekrappery my binnepret verskaf het, het die gejeuk in my brein my malgemaak.

Ek het nodeloos om te sê nooit weer by daardie supermark iets gekoop nie.

Twee konsepte wat ek daardie dag baie vinnig verstaan het is dat die drie s’e – sibbe, sadisme en sarkasme – tot permanente emosionele skade kan lei.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button