Soektog na SA se voorste jong boer
TLU SA nooi alle jong boere uit om in te skryf vir die 2025 Jongboer van die Jaar-kompetisie, waar die land se mees toegewyde en vooruitdenkende boere meeding vir ongelooflike pryse, insluitend ‘n dubbelkajuit 4x4-bakkie en internasionale landbou-ervaring.
Vanjaar se kompetisie volg op ‘n uitmuntende 2024, waar varkboer Wian Süllwald as wenner gekroon is.
Met 10 finaliste van regoor Suid-Afrika was dit ‘n inspirerende kompetisie van jong talent, innovasie en vasberadenheid in die landbousektor.
“Hierdie kompetisie gaan nie oor die grootte van jou plaas of jou familiegeskiedenis in boerdery nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
“Dit gaan oor jou bydrae, jou innovasie en hoe jy ‘n verskil maak in die landbousektor. Dit is ‘n kans om jou boerderyvaardighede te slyp, nuwe insigte te kry en uiteindelik jou loopbaan na ‘n nuwe vlak te neem.”
Wat maak hierdie kompetisie besonders?
Dit is ‘n platform waar jong boere se kennis, bestuursvernuf en passie vir die landboubedryf getoets word.
Deelnemers word beoordeel op finansiële- en risikobestuur, infrastruktuur, meganisasie en tegnologie, produksiepraktyke en hul betrokkenheid in die gemeenskap.
Boonop moet die wenner ‘n dinamiese ambassadeur vir TLU SA kan wees en ‘n stem vir die jong boere van Suid-Afrika.
Wie kan inskryf?
Alle jong boere wat lede van TLU SA is kan inskryf.
As jy nog nie ‘n lid is nie – geen probleem!
Jou inskrywing vir die kompetisie bied jou outomaties die geleentheid om ‘n lid te word en deel te wees van ‘n netwerk van toegewyde boere wat Suid-Afrika se landbou toekoms bou.
Die beoordelaars besoek elke deelnemer se plaas en evalueer hul boerderypraktyke volgens ‘n objektiewe puntestelsel.
Die finale besluit word geneem ná ‘n deeglike besprekingsproses om seker te maak dat die mees verdienstelike jong boer bekroon word.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 20 Junie.
Vir inskrywings en navrae, kontak info@tlu.co.za of skakel 012 804 8031.
