Operasie selfoon soek in Sasolburg
RUBRIEK - Dis 'n sinkende gevoel as jy skielik besef jou getroue bondgenoot, die magtige selfoon is nie in jou besit nie.
RUBRIEK – Saterdag stuur ek myse Ford Mich Sasolburg toe. Ek is op diens en alles het uitgereën.
Maar dis die eerste Saterdag van die maand en as my geheue my nie in die steek laat nie moet daar ‘n mark by die groot sentrum langs die Parys pad wees.
Die verligting is groot toe ek al die gazebo’s op die breë stoep gewaar. Ek begin sommer so van ‘n kant af gesels en foto’s te neem.
Het weer vergeet om my mediakaart om my nek te hang, so die meeste stalletjie eienaars kyk my bietjie wantrouig aan oor die ontydige fotonemery.
Ek beduie ek is van Vaalweekblad en dinge verloop beter. Dit was tot ek skielik besef my selfoon is nie by my nie. Ek sweer ek gaan die ding nog met velcro aan my klere vasmaak.
Ek loop terug op my spore. Kry mense om my foon te bel, maar oral is daar stilte. Gaan vra naderhand by twee van die winkels of die foon nie dalk ingehandig is nie.
Maar niks. Almal is simpatiek. Ek besluit om huis toe te gaan. So in die ry wonder ek waarheen eerste? My selfoon diensverskaffer of die bank?
Ek kry ‘n naar kol op my maag oor al die verlore kontakte en foto’s. Gelukkkig het die gawe mense van die Coram Deo gemeente vir my ook ‘n botteltjie koeldrank en ‘n worsbroodjie gegee. Dit stil darem die senuwees.
Voor my woonsteldeur draai Simba die Boerboel ongeduldig rond. Hy wil ietsie hê om aan te kou. Ek kry amper nie die deur oop nie.
Uiteindelik is ek binne, met Simba wat al oor my voete drool van opgewondenheid. Dis toe ek opkyk wat ek dit sien. My selfoon.
Op die tafel waar ek dit die oggend vergeet het. Ses gemiste oproepe… ek bel dadelik terug. Besef dis die mense wat die oggend my help soek het.
Die verligting is groot. Voel bietjie soos ‘n gek omdat ek amper die hele mark op hol gehad het, maar darem was hul saam met my bly oor ek my selfoon gekry het.
Volgende keer sal ek sorg dat selfoon veilig in my sak is en ek sal genoeg geld saamvat om by elkeen van daardie dierbare ooms en tannies wat help soek het iets te koop. Van hul vars koeksisters en pasteie tot by mango
