Parys sonder water, maar waterwerke sonder werkers
Die AfriForum-tak in Parys het ’n dringende skrywe aan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en die departement van Water en Sanitasie (DWS) gerig oor die toestand van die dorp se waterwerke, waar alle herstel- en opgraderingswerk skynbaar tot stilstand gekom het.

Volgens AriForum is die rede hiervoor glo dat die kontrakteur wat aangestel is om die waterwerke op te gradeer, glo bankrotskap verklaar en die terrein verlaat het.
AfriForum probeer nou agter die kap van die byl te kom en het daarom ’n dringende vergadering met die munisipaliteit en die DWS aangevra, asook ’n uiteensetting oor die stand van sake by die waterwerke.
AfriForum het onlangs verneem dat vier waterpompe en -motors, wat die munisipaliteit reeds in Desember laat herstel het, glo steeds nie by die watersuiweringsaanleg afgelewer is nie omdat die munisipaliteit na bewering nie vir dié herstelwerk betaal het nie.
“Ons wil die rede weet waarom die munisipaliteit voortdurend versuim om sy verpligtinge rakende dienslewering na te kom,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier..
“Die doeltreffende bestuur van Parys se watersuiweringsaanleg is ’n noodsaaklikheid en as die munisipaliteit nie in staat is om hierdie basiese verpligting na te kom nie, moet ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas. Minstens dán sal daar meer geleentheid wees vir gemeenskapsorganisasies soos AfriForum om broodnodige ondersteuning en kundigheid te bied om Parys se waterkrisis op te klaar.”
AfriForum is reeds in die proses om die munisipaliteit vas te vat vir sy gebrekkige dienslewering deur middel van ’n hofaansoek.
Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas as sy pligte nie nagekom word nie.
Die burgerregteorganisasie wag steeds op uitspraak in dié saak.
