Juffrou vat die pad, maar kom darem weer terug
Sy is voltyds juffrou, maar so elke nou en dan vat sy 'n half-marathon of 'n marathon aan, want sy geniet dit.
VANDERBIJLPARK – Langafstande was nooit haar forté nie. Op skool was Ané Hartman ‘n kort afstand atleet en het netbal gespeel. Netbal is steeds ‘n groot liefde en nou se dae is sy ‘n gekwalifiseerde nasionale netbal skeidsregter.
Dis waar die draf-ding ingekom het. Sy het saam met haar man begin draf om fiks te bly vir die netbal. Sy het nooit gedink sy sal regtig daarvan hou nie.

Voor sy haar oë kon uitvee het sy onder leiding van ‘n oefenprogram opgetrek deur haar skoonma, Elize Hartley, begin voorberei vir haar eerste marathon.
So het sy nou al drie keer die 21km van die Two Oceans gehardloop en verlede jaar het sy die Kaapsehoop marathon gehardloop waar sy vir hierdie jaar se Two Oceans ultra marathon gekwalifiseer het.
“Die Sasol en Vaal half marathons is ook deel van ons oefenprogram,” vertel sy. Sy en Zanmari Laubscher oefen saam en het hierdie jaar ook die Two Oceans saam aangedurf.
“Dit was baie lekker. Die mense langs die pad het die heeltyd vir ons gelag, want ons het seker gemaak ons vier elke mylpaal, soos die halfpadmerk, langs die pad,” lag sy.

Ané is ‘n onderwyseres by die Laerskool Emfulenipark en sê die drawwery is vir eers op ys, want die netbalseisoen het begin.
“Ek sal weer een of ander tyd die Two Oceans doen, maar die Comrades is te wild vir my. Dink ek sal maar vir eers op half marathonne fokus,” glimlag sy.
