Jong byeboer bang nie ‘n bysteek nie
Net in graad 8, maar reeds 'n byeboer van formaat
SASOLBURG – Theuns Kolger,’n graad 8-leerder van Hoërskool Sasolburg, is al net so ‘n gesoute byeboer soos sy pa Kobie.
Vir die afgelope sewe jaar het hul al korwe op die lande buite die dorp. Theuns gaan elke twee weke saam met sy pa om die korwe uit te haal, die waslagie af te haal en die heuning te tap.
Daarvoor word ‘n uitswaai masjien gebruik. Soms gaan help hul ook as mense probleme het met ‘n swerm bye by hul huise. Die bye word dan eers by hul huis gehou en as hul sterk genoeg is na die korwe in die lande geneem.
“Nou die dag was daar ‘n erge swerm in Sasolburg en ek is deur my beskermde klere gesteek, maar ek is gelukkig nie allergies vir ‘n bysteek nie,” vertel hy.
Hy en sy ma, Marlu, verkoop die heuning (meestal sonneblom heuning), maar soms ook multi-flora by markte in die omgewing.
