In graad 2 begin en sy hardloop steeds
Karin-Mari Dötze streef daarna om 'n positiewe impak op haar leerders in die klas en op die sportveld te maak. Sy praat nie net nie, sy is ook 'n atleet wat alles gee om haar doelwitte te bereik.
VANDERBIJLPARK – Karin-Mari Dötze het onlangs 15de in haar ouderdomsklas in die Two Oceans se half-marathon gekom. ‘n Besonderse prestasie aangesien daar meer as 5 000 vroue in daardie afdeling ingeskryf was.
Sy beskryf dit as ‘n amazing race. “Ek het vir 1:26 gemik, maar het klaargemaak in 1:23:30.” Sover was 2025 haar jaar. Sy het die Vaal half-marathon in Vereeniging gewen met ‘n persoonlike beste tyd en dit opgevolg met ‘n persoonlike beste in die Sasol Sasolburg se 10 km.
Nadat haar afrigter, Stefan Blunden, vir haar gesê het sy gaan die Two Oceans in minder as 4 min per kilometer hardloop het sy gedink hy is mal.

“Hy het net gesê ek moet myself vertrou en hom vertrou. Ons het baie maande hard gewerk, maar dit het gewerk,” glimlag sy van oor tot oor.
Karin-Mari het in graad 2 aan die Laerskool Emfulenipark begin hardloop. Nogal die 1200m. “Ek het teen atlete veel ouer as ek deelgeneem, maar dit geniet en het van toe af nog nooit ophou hardloop nie,” vertel sy.
Na skool het sy in Potchefstroom gaan swot en in Karlien koshuis gebly. “Op universiteit het ek landloop gedoen.” In 2019 het sy haar knie seergemaak en ook swanger geraak.
Kort daarna het die Covid pandemie gevolg en het sy haar atletiek vir eers opsy gesit. In 2021 het haar paaie met Stefan gekruis en het hy haar begin afrig nie net vir landloop nie, maar ook in die 800m.
Sy het onder andere derde en vierde plekke by die SA’s behaal. Van die wedlope wat hierdie jaar nog vir haar wag is die 10 km in die Vaal Marathon in Vereeniging en die 10 km in Durban in Junie.
Intussen het sy haar graad in sportkunde aangevul met ‘n graad in onderwys en is sy tans ‘n graad 3 onderwyseres by die skool waar alles begin het, Laerskool Emfulenipark.
