Herfsoord se Kruisstasies bemoedig en verras
Dit was 'n eerste vir Herfsoord in Vanderbijlpark. Kruisstasies waar mense Jesus se lydensweg kon volg gedurende die Paasnaweek.
VANDERBIJLPARK – Die onlangse Paasnaweek het Herfsoord vir die eerste maal Kruisstasies aangebied. Na maande se beplanning en weke se harde werk het die opening 17 April plaasgevind.
Die Kruisstasies het aan gelowiges die geleentheid gebied om die pad van Jesus, van die intog in Jerusalem tot by Sy opstanding te volg in afsonderlike stasies wat gepas opgemaak was.

By elke stasie is die verwante Bybelverse aangebring en kon besoekers vertoef, terwyl hulle die uitbeelding van byvoorbeeld Judas se verraad kon sien.
By verskeie van die stasies was daar ook aksies wat uitgevoer kon word, soos ‘n inkleurprentjie vir die kinders of ‘n handgemaakte kruisie, of iets soortgelyks om mense aan die spesifieke stastie te herinner.
Binne die saal het sagte musiek gespeel en almal wat ingegaan het is genoeg tyd gegun om hul weg stil en rustig te baan. Buite was daar voortdurend ‘n ry mense (nie net Herfsoord inwoners nie, maar ook gesinne) wat geduldig hul beurt afgewag het.

Meer as 100 besoekers het elke dag die Kruisstasies besoek. Soos een vrou tereg opgemerk het toe sy uitkom: “Dit was nou iets besonders.”
Die idee om die Kruisstasies oor die Paasnaweek aan te bied het gekom van die oord se bestuurder, Charlene Aucamp, en sy en die bestuurspan verdien ‘n pluimpie vir ‘n suksesvolle projek. Hulle hoop om dit nou jaarliks aan te bied.
