Syferslim en stylvol: Ontmoet die vrou wat ons Emfuleni-probleme oplos!
“Dinge verloop nie altyd perfek nie, maar ek gee nooit op nie. Ek hou aan probeer totdat ek my doel bereik en sukses behaal” - Monique Taylor
MIDVAAL. – Sjarmant, slim en stylvol. Só kan die knap Vaaldriehoekse sakevrou, Monique Taylor (42), beskryf word. Dit omvat egter nie naastenby al haar talente waarmee sy woeker om haar leefwêreld ‘n beter plek te maak nie.
Monique het die afgelope maande in baie Vaaldriehoekers se harte ingekruip danksy haar sakeonderneming, Taylored Services, wat inwoners in die Emfuleni Munisiplaiteit (ELM) help om probleme met hul foutiewe munisipale rekeninge uit te sorteer.
En nou dra sy nóg ‘n nuwe hoed: Sy is ‘n finalis in die gesogte jaarlikse “Next Opulent Model South Africa” wedstryd – die grootste en sekerlik een van die mees gesogte modelgeleenthede in die land. Dit is gestig deur die handelsmerkdeskundige, Johan Ungerer, wat aspirant-modelle ‘n unieke geleentheid bied om hul vaardighede te toon en nasionale erkenning te kry. Die finale glansgeleentheid word op 14 Augustus by die bekende Time Square Sunbet Arena in Pretoria gehou.
Monique het in Henley-on-Klip grootgeword en dis ook hier waar sy en haar man, Vaughn, vandag hul twee tieners grootmaak. Saam met die verantwoordelikhede van ‘n gesin en haar sakeondernemings het sy ook verskeie ander ysters in die vuur. Sy is onder andere betrokke by The Look Good Feel Better Foundation om iets terug te gee aan die gemeenskap.
“Dis ’n groot voorreg om saam met hulle te werk en om kankerpasiënte aan te moedig terwyl hulle deur hul behandeling gaan,” sê sy.
Monique was lank in die ontwikkelingsbedryf en eiendomme betrokke voordat sy begin toespits het op munisipale sake en die oplos van rekeningprobleme. “Aanvanklik het ek net ’n paar sake aangepak om te kyk of ek dit kon regkry. Voor ek my oë kon uitvee, was ek oorval met kliënte wat dringend hulp nodig gehad het.” Die talle gloeiende getuigskrifte wat sy op sosiale media van dankbare kliënte kry, is ‘n bewys dat sy dié taak uitstekend bemeester het.
“Ek is ongelooflik lief daarvoor om na mense se stories te luister en hulle te help om uit moeilike omstandighede te kom. Kry ek dit altyd reg? Nee, beslis nie. Maar ek glo regtig dat ek ’n verskil maak,” sê sy.
Sy beskryf haarself as ‘n doelgerigte mens met ’n sterk karakter; passievol en toegewyd in alles wat sy aanpak. “Dinge verloop nie altyd perfek nie, maar ek gee nooit op nie. Ek hou aan probeer totdat ek my doel bereik en sukses behaal.” Tyd vir stokperdjies is min, maar sy is mal oor lees en kan ure lank verdwyn in die bladsye van ’n goeie boek.
Baie inwoners van die Vaaldriehoek se oë gaan op 14 Augustus op ons goue meisie wees. “My man, kinders en ouers, staan rotsvas agter my. Ek is werklik bevoorreg om sulke ondersteuning te hê. Dan praat ek nog nie eers van al my vriende en ander mense wat hierdie pad saam met my stap nie. Ek is onmeetbaar geseënd met mense wat my bystaan,” sê Monique.



