Local newsNews

Afgetree, maar van stilsit is geen sprake nie

Maak nader kennis met mnr. Desmond de Swardt wat al vir dekades diep spore in Vanderbijlpark trap. Lees meer...

VANDERBIJLPARK – Mnr. Desmond de Swardt en Vanderbijlpark gaan saam soos jellie en vla. Hy is tans voorsitter van Herfsoord se bestuurskomitee.

Sy alma mater is Laerskool Oospark en Hoërskool Vanderbijlpark. Na sy weermagdae is Desmond PUK toe, waar hy in Hombré tuisgegaan het. Die koshuis was slegs vir studente wat reeds hul verpligte weermagdiens voltooi het.

In 1981 het hy by Hoërskool Vanderbijlpark begin skoolhou tot sy aftrede in 2018. Eers as Aardrykskunde onderwyser en later voorligting. Desmond was ook een van die manne wat ‘n oog op die Bijler busse gehou het.

Hier in die laat 80’s en 90’s het die skool ‘n hele vloot busse gehad en hy was een van die bestuurders. Toere is onderneem na die Kaap, Namibië en Rubbervale in die Bosveld.

Sy jare in die onderwys het hy baie geniet, veral die eerste 23 jaar toe Mnr. PW Pieterse skoolhoof was. Ses jaar gelede het Desmond by Herfsoord ingetrek en hy sê dis die beste besluit wat hy nog geneem het.

Nie dat hy net onder die lapa sit en sy aftrede geniet nie. As die De Swardts nie deur toetrek en vir die kinders en hul eerste kleinkind in Pretoria gaan kuier nie, is hy oral doenig op die oord.

“Ek is nou besiger as toe ek nog in die onderwys was,” lag hy. Desmond is opgewonde oor al die nuwe planne, met ‘n wye glimlag vir almal wat hy ontmoet.

Hy is lief om stories te vertel en lag maklik. Natuurlik is hy baie trots op sy seun en dogter wat albei onderwys gaan swot het. Net jammer sy dogter bly nou in Vietnam.

“Dankie tog vir video oproepe” sug hy en wys dan weer trots ‘n foto van sy kleinseun en ook sommer die nuwe putt-putt bane wat eersdaags klaar sal wees.

Een ding is verseker, Mnr. De Swardt vir sy voormalige leerders en oom Desmond vir die wat hom nou ken, het net die manier om jou aan die lag te kry en die lewe ‘n bietjie meer positief te sien as voor die gesprek begin het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button