Ek sê maar net… Valies en reën jel nie
RUBRIEK - Al die reën van die afgelope tyd het my laat besef hier in die Vaaldriehoek is ons nie regtig gerat vir dae aaneen se eendeweer nie... Lees meer
RUBRIEK – As Afrikaner het ek van kleins af geleer, reën is belangrik. Jy is dankbaar vir reën, want die boere moet water hê, die Vaaldam moet vol wees en die Vaalrivier skoon.
Dit was jare gelede. In die dae wat die 14 dae geelperske reën in die ou WesTransvaal geval het. Nie hier op die hoëveld nie. Hier het ons laatmiddag donderstorms gekry, soms met hael by. Dit was gou oor en verby. ‘n Dag se aanmekaar reën was die uitsondering in my skooldae.
In my Pretoriadae het ek gou uitgevind van die Staatsdiens-reën. Daardie dae het ons 07:15 begin werk en 15:45 klaargemaak. In die somer kon jy maar weet, hier van huis toe gaan tyd se kant af tot net na 17:00 het die wolke saamgepak en al wat ‘n staatsamptenaar was het natgereën terwyl ons vir busse gewag het.
Ja, dit was so lank terug. Was makliker om bus te ry as om parkering in die middestad te kry.
Hier is ons nou in wat veronderstel is om die mooie Herfs te wees en dit reën aanmekaar. Vir dae aaneen. Eers was ons bly, want ‘n paar maande terug was die Vaaldam erg laag, maar toe begin dinge soos wasgoed te lol. Nie so maklik om wasgoed droog te kry in eendeweer nie.
Oral sien jy mense op hul tone deur water draf om by hul motors te kom. Nie baie reënjasse te sien nie. Heelwat het darem sambrele. Maar, wat maak mens met ‘n nat sambreel as jy in die kantoor kom?
Lange jare terug was daar mos kapstokke vir jasse en hoede en spesiale sambreelhouers. Dit was voor my tyd. Ek sukkel hoeka met my sambreel. Teen die tyd wat ek met my pakkasie uit die motor geklim het en onthou het om die sleutel te vat en dan sukkel om die sambreel oop te kry, is ek klaar halfpad nat.
Ek gee nie om om nat te reën op pad huis toe nie, want by die huis kan jy altyd droë klere aantrek, maar op pad werk toe is ‘n ander storie. Boonop het my sambreel twee gaatjies in. Weer gebrand met een van my gifstokkies. Hoe en wanneer het ek geen idee nie, maar daar sit dit nou.
Die reën sif neer, die paaie is oorspoel, die slaggate versteek en die Valies lyk asof ons gebuk gaan onder die reën las. Dalk moet ons maar by ons vrinne en familie in Engeland hoor watse reënjasse, skoene en sambrele beveel hul aan en hoe op dees aarde kry hul die wasgoed droog?
