Onwettige jag met honde wek kommer
Hierdie wrede, misdadige praktyk ruk nie net handuit nie, maar dui ook op die versuim van wetstoepassing.

TLU SA spreek met groot erns sy kommer uit oor die groeiende verskynsel van onwettige jag met honde wat in landbougebiede, veral in die Vrystaat, handuit ruk.
Meer voorvalle word aangemeld waar individue sonder toestemming op privaat eiendom met honde instap en wild of vee jag.
“Ons sien ‘n gevaarlike patroon van onregmatige betreding wat tot ernstige en selfs georganiseerde misdaad kan lei. Dit kan nie langer geïgnoreer word nie,” waarsku Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskik reeds oor riglyne wat spesifiek voorsiening maak vir hoe sulke sake hanteer moet word.
Hierdie sluit onder andere in: die beslaglegging van betrokke honde as bewysstukke, prosedures vir inhegtenisneming, en die toepaslike wetgewing soos die Omheiningswet, die Wet op Dierebeskerming, en die Wet op Onregmatige Betreding.
Tog blyk dit dat oortreders gereeld daarmee wegkom.
“Ons boere is geregtig op beskerming van hul eiendom en veiligheid van hul gesinne,” sê Van Zyl.
Volgens TLU SA se Veiligheidskomitee dien hierdie onwettige jag dikwels as dekmantel vir ander misdade soos veediefstal, intimidasie en selfs geweldsmisdade.
Boere wat hierdie praktyk teenstaan, word nie net bedreig nie, maar is ook slagoffers van doelbewuste veldbrande.
“In sekere gevalle word pogings aangewend om vlakvarke uit hul gate te rook, wat dan veldbrande aan die brand steek – met verwoestende gevolge vir boere en hul grond. As hierdie onwettige jagte daadwerklik bekamp word, sal dit dus ook ’n wesenlike impak hê op die vermindering van winterveldbrande.”
TLU SA doen ‘n beroep op die SAPD om hul eie riglyne ernstig op te neem, hul lede deeglik op te lei in toepaslike wetgewing en om werklik op te tree teen oortreders.
“Ons moedig boere aan om elke voorval deeglik te dokumenteer, foto’s te neem, verklarings van getuies te verkry, en klagtes via die regte kanale in te dien.
“TLU SA sal aanhou druk plaas op die owerhede totdat wet en orde in landbougebiede herstel word”.
