Vaal groet ‘n groot gemeenskapsman
Ons innige simpatie gaan uit na Tannie Leonora Muir met die afsterwe van Oom Mike.
VANDERBIJLPARK – “Ons het vandag ‘n groot verlies beleef met die afsterwe van hierdie vegter vir geregtigheid en ware vriend van ons gemeenskap in geheel. Hy sal verseker lank onthou word.”
Dit was ‘n gedeelte van die boodskap wat VF+ raadslid Hein van der Lilth Saterdagaand uitgestuur het na die afsterwe van mnr. Mike Muir die oggend. Oom Mike, soos hy onder vele bekend gestaan het, sou 30 Mei 78 jaar oud geword het.
Hy het middel Januarie twee beroertes gehad en was sedertdien in Cormed Hospitaal en ook in ‘n rehabilitasie fasiliteit. Sy vrou, Leonora, sê hy het die afgelope week baie agteruitgegaan.
“Darem kon hy sy kleinkinders sien voordat hy Saterdagoggend vroeg oorlede is.” In die Vaaldriehoek was Oom Mike eers bekend as bankbestuurder by verskeie banke alvorens hy die politiek betree het in 1987 tot met sy uittrede in 2011.
Hy was raadslid vir die ANC en MMC van Finansies. Op ‘n tyd het hy ook as waarnemende burgemeester gedien. “Mike het nooit velkleur raakgesien nie. Hy was ‘n gemeenskapsman. Hy het altyd die bal gespeel en nie die man nie,” vertel Leonora.
Vir hom was dit belangrik om behoeftes aan te spreek. So was hy die een wat met ‘n enkele brief aan voormalige president Zuma verseker het dat Makro in Vanderbijlpark gebou is en nie soos vooraf beplan in Khayalitsha nie.
Alhoewel sy baie hartseer is, voel Leonora dat Mike ‘n mooi ouderdom bereik het en dat God hom genadig was. “Ons was baie naby aanmekaar. Waar die een gegaan het, het die ander een ook gegaan, al was dit net kafee toe,” onthou sy.
Hulle is die jaar 42 jaar getroud en ken mekaar al 45 jaar. Sy sê hul het mekaar by ‘n besigheidsete ontmoet, maar dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie.
“Ek het hom laat werk,” lag sy tussen die trane deur. “Hy het my gereeld gevra wat is 1+1, dan het ek 4 geantwoord.” “Hy het gesê die dag as ek die regte antwoord gee, trou ons. Dit het lank so gegaan totdat hy eendag gebel het en gesê het hy is nou moeg gevra, nou moet ons trou.”
Dis hierdie en ander staaltjies wat deur die hartseer tyd onthou en oorvertel sal word. Mike Muir was nie net ‘n bestuurder met ‘n kop vir syfers en ‘n politikus nie, hy was ook mentor, man, pa, oupa en oupagrootjie. Sy spore lê diep.
Die begrafnisdiens vind 7 Mei om 10:00 vanuit die NG Kerk Vaalrivier. Barrage road. Vanderbijlpark plaas.
