Burger King brand: verdagte word ondervra
Beeldmateriaal wys glo daar is met gasbottels gepeuter
VANDERBIJLPARK – ‘n Verdagte word tans deur polisie ondervra nadat ‘n brand by Burger King in Vanderbijlpark laat Saterdagaand (3 Mei) uitgebreek het.
Volgens die polisie is ‘n verdagte aangekeer nadat beeldmateriaal verkry is wat die verdagte met die voorval verbind.
Daar word vermoed dat die brand met opset naby die gasbottelberging gestig is. Die brand is egter geblus voordat die gasbottels kon ontplof.
Niemand is ernstig in die voorval beseer nie, aangesien die brandskade meestal tot die buitekant van die gebou beperk is. ER24 het pasiënte op die toneel behandel wat rook ingeasem het.
Vaalweekblad het Sondag die kitskosrestaurant besoek. Die bestuurder van die tak wou nie die media te woord staan nie.


