Local newsNewsNews

Rubriek: Runners High of lekker braai, die keuse is joune

Wat van as elke tweede waterpunt met ‘n fotografiepunt vervang word.

Bruce Fordyce, Cowies Hill, Fields Hill, Botha’s Hill, Inchanga en Polly Shortts het almal een ding in gemeen: Die Comrades Ultra Marathon.

Vandat ek kan onthou was die Comrades Marathon deel van ons gesins -en familielewe.

Nie dat enigeen van ons Van Rensburgs enigsins enige aspirasies koester of die genetiese predisposisie het om ‘n ultra marathon kaf te kan draf nie.

Almal wat my ken weet dus dat as ek aangehardloop kom moet jy dieselfde doen, want dan is die duiwel besig om my te jaag.

So daar bevind ek myself weer op ‘n Heilige Sondag douvoordag besig om ‘n marathon af te neem. Ek moet erken, ek is nie werklik ‘n oggendmens nie.

Maar langasems is darem ‘n ander spesie. Buitensporig, vrolik en beleefd wanneer hulle met hardloopskoene, wat duurder as jou kar se vier bande is, verby jou trippel.

Die wat stap en na hul asems snak kry sommer nuwe lewe wanneer hulle ‘n kamera sien.

Mens wil tog nie op sosiale media of elders verskyn as jy ‘n wedloop of marathon stap nie.

Wat sal die pastoor dink? Ek kry toe die blink gedagte. Wat van as elke tweede waterpunt met ‘n fotografiepunt vervang word. Persoonlike beste tye en rekords sal soos mieliepitte spat.

Eerstens sal jy nie waag om te stap nie en tweedens sal jy laat spaander om by die volgende waterpunt uit te kom.

Genius pappie! My verbeeldingsvlug word toe vinnig gehalt met die aankoms van die Rooikruis-atlete. Die bittereinders wat ‘n marathon of wedloop sal hardloop al hang hulle nekke aan ‘n draadjie.

Dis hierdie ouens wat ‘n skuldgevoel soos sooibrand binne jou laat opborrel. Die vraag wat by jou spook is: Wat is jou verskoning?

In my geval het ek ‘n baie goeie een. Wie gaan die foto’s verskaf as ek draf? Ek hou nog altyd vol dat wedlope tot en met 10km vir my nog sin maak.

Die mens is tog nie geskape om langer afstande te hardloop nie. Mens hoor altyd van die sogenaamde “Runners High” en endorfien wat deur die liggaam afgeskei word om jou ‘n vorm van euforie te laat ervaar. Ek sal waarskynlik nooit daarvan kan getuig nie.

Indien jy my ooit by die vertrekpunt van ‘n wedloop of marathon met ‘n frokkie, polyshorts en resiesnommer op my bors sien moet julle weet die “runner is high.”

Op pad huis toe terwyl ek vir slaggate uitswaai, besef ek dat die hardlopers moontlik besig is met ‘n vorm van evolusie.

Met stygende brandstofpryse, slaggate en waterlekke gaan dit in die nabye toekoms ‘n vereiste ter wille van oorlewing wees om ver te kan hardloop.

So, stof maar daardie hardloopskoene af en ervaar daai Runners High! Oud, maar nog lank nie koud! Koebaai!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button