Rondomtalie reis in ‘n Beach Buggy
'n Mens kry vakansies en dan kry mens 'n avontuur reis regoor Suid-Afrika soos wat Johan en Wilna van Staden onderneem het.
VANDERBIJLPARK – Van hulle vriende en familie het gedink Johan en Wilna van Staden is stapelgek, maar die twee het vasgeskop en hul avontuur sonder veel beplanning aangepak.
Van Vanderbijlpark, deur Noordwes tot in die Karoo en vandaar Veldrift, Kaapstad, Hermanus, Oos-Londen, Ramsgate en so via die Durban/Harrismithpad terug huis toe. In ‘n oranje Beach Buggy (BB).

Johan het die oranje motortjie al ses jaar terug by ‘n vriend gekoop, wat dit op ‘n plaas raakgeloop het. Hy het lank gewerk om die Beach Buggy op te bou en weer op die pad te kry.
Sowat ses maande gelede het hulle besluit hulle wil die tog aanpak, maar Johan erken hy het darem vir ‘n maand lank werk toe en terug met die BB gery, net om seker te maak daar is nie enige geite of goete wat hak of sukkel nie.
Vir Johan was dit die derde keer wat hy so ‘n lang reis aangepak het. Hy en ‘n vriend het met motorfietse om Lesotho getoer en op ‘n ander keer is hy ook op ‘n motorfiets met ‘n ompad Kaap toe en terug.
Wilna is nie heeltemal so avontuurlustig nie, maar sê sy het hierdie avontuur baie geniet. “Dit was van dag een af net pret. Ons het so baie gelag.

“Veral die slag wat ons op ‘n grondpad in die middel van nêrens beland het. Hoe verder ons gery het, hoe meer water was op die pad. Die water het by die kar begin instroom en langs die kante so hoog opgespat ons bene het nat geword. So op ‘n droë stukkie toe besef ons, daar is die rivier agter ons waardeur ons nou net is en voor ons lê ‘n moddermoeras.”
Hulle was net 70km van die gastehuis waar hulle die aand sou slaap, maar het omgedraai, weer deur al die water gery en uiteindelik met ‘n massiewe ompad hul slaapplek gevind.
Elke dag het hulle 400-500km afgelê en oral kon mense nie glo hoe ver hul met die BB ry nie. “Veral die petroljoggies het baie gelag en kopgeskud wanneer ons vir petrol gestop het,” lag Johan.
“Almal wou ook foto’s van die Beach Buggy neem,” onthou Wilma. Die twee het op 6 April uit Vanderbijlpark vertrek en was 21 April weer veilig tuis met die BB se odometer wat 5 513km meer op het
