Local newsNewsNews

Vanderbijl-substasies nou 3 jaar veilig danksy AfriForum

VANDERBIJLPARK - AfriForum se plaaslike tak het die afgelope drie jaar in samewerking met Sekuriteit Sonder Grense gewerk om ses substasies te beveilig en sodoende te verseker dat die gemeenskap nie weens diefstal sonder krag sit nie.

Die tak het onder meer die substasies met alarmstelsels toegerus wat deur Sekuriteit Sonder Grense gemoniteer word.

Daar word beoog om nóg substasies in die omgewing op hierdie wyse te beveilig.

AfriForum se strukture landswyd werk hard om infrastruktuur te beveilig ten einde totale verval en agteruitgang teen te werk.

Die substasies in Vanderbijlpark het gereeld onder kabeldiefstal deurgeloop wat daartoe gelei het dat die gemeenskap soms vir dae lank sonder krag gesit het.

Die alarmstelsels het oor die afgelope drie jaar ’n reuserol gespeel om sabotasie en kabeldiefstal by hierdie substasies te verhoed.

Die tak het ook die transformator op die hoek van Da Vinci- en Moerdykstraat beveilig ná dit oopgelos is aangesien dit te groot was om in die mini-substasiekas te pas en bo-op die kas geinstalleer is.

Die transformator is omhein om te verhoed dat kinders of ander individue aan die transformator peuter en seerkry.

Die substasie in Carpentierstraat is ook deur die Vanderbijlpark-tak beveilig. Die deure is vervang en die substasie is omhein.  Sekuriteit Sonder Grense het ook die alarmstelsel herstel wat nou deur hulle gemoniteer sal word.

Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek, het dit noodsaaklik geword vir organisasies soos AfriForum en die gemeenskap om saam om te sien na die beveiliging van infrastruktuur in hulle omgewing.

“Ongelukkig wil dit voorkom of munisipaliteite nie oor die vaardighede of kennis beskik om infrastruktuur soos substasies ordentlik te beveilig nie.

“Ons kan nie net hande gevou sit en wag vir die munisipaliteite om ’n verantwoordelikheidsbesef te ontwikkel nie, ons moet iets doen anders gaan daar niks meer oorbly nie.”

Gemeenskapslede wat by hierdie aktiewe tak wil aansluit, kan ’n e-pos stuur na vanderbijlpark@afriforumtak.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button