‘n Oerwoud in die hartjie van Vanderbijlpark
Capie Barnard hou nie van stil sit nie, maar om 'n kaktusse te kweek en te verkoop het per ongeluk op die regte tyd op sy pad beland.
VANDERBIJLPARK– Dit het met ‘n bakkie plantjies begin wat Capie Barnard op sy vrou, Rina, se markstalletjie met kosmetiese middels geplaas het, vir versiering.
“Dit was sommer klein vetplantjies en toe ek weer sien het ‘n ou dit gekoop,” lag Capie. Dit was net wat hy nodig gehad het om weer aan die gang te kom na ‘n groot rugoperasie.

Pyn het hy, maar hy hou nie van stilsit nie. “Jare gelede was ek en die seuns betrokke by hengel. Ons was deel van Gauteng Hengel en het gereeld kompetisies gevang, nie net vir Gauteng nie, maar ook vir Suid-Afrika,” vertel hy.
Dan was daar die tyd wat hy en Rina die wêreld platgery het saam met hul motorfietsklub. Vandag hang sy colours teen die muur en die motorfiets staan in die motorhuis.
Nou se dae as hul pad vat is dit in die motor, meestal Kaap toe, wanneer die kinders vanuit die VSA kom kuier.
Dan is daar nog die karaoke ook. Dit doen hy drie maal per week. “Ek is geseënd met baie talente,” vertel hy. “Rina ook, maar sy is die skaam ene. Ek kry haar darem nou al om so twee liedjies saam met my te sing.”

Sy heiligdom is sy tuin agter. Daar is kaktusse van alle grotes en soorte. Hier kweek hy die plantjies van saadjies af en hier is hy trots op elkeen wat ‘n blom uitstoot.
“Dis my oerwoud en dis ook waar die naam van ons vlooimark stalletjie vandaan kom, Capie se oerwoud.” Hy verkoop slegs plantjies wat hy self gekweek het.
Ander stalletjiehouers weet al by die Barnards se stalletjie word daar dikwels goed weggegee, as dit nie plantjies is nie, dan koop hul sommer ‘n klomp teddiebere op en deel dit vir die kinders uit.
“‘n Mens moet positief bly. Ons het al soveel uitgedeel, maar ons ontvang net soveel terug. Die Here sorg vir ons almal. Ons geniet dit. Ek het nog altyd gevoel jy moet ander se lewens kan aanraak,” raak hy filosofies.
“My pa het my van kleins af geleer, jy kan iets doen. ‘n Mens gaan sit nie net en sê ek is nou oud en my rug is seer nie. Daar is nog altyd iets wat jy kan aanpak of doen. Kyk net hoe mooi lyk my tuin hier agter en dit is omdat ek nie net wou gaan sit nie.”
Capie is nie net filosoof en entrepreneur nie, hy het ook ‘n goeie sin vir humor. By sy stalletjie is daar altyd ‘n bord wat lees: “Om ‘n lang storie kort te maak, koop ‘n blerrie kaktus.” Raakvat woorde en breë glimlagte. Capie en sy Rina geniet hul aftrede terdeë.
