Local newsNews

Skepper van kunswerke uit oudhede

By die vlooimarkte kan mens Johan van Niekerk uitken as die een met die hoed, die droë sin vir humor en vonkel in die oog. Ons het gaan nader kennis maak...

VEREENIGING – “Nee man, ek is nie ‘n kunstenaar nie,” skop Johan van Niekerk teë. “Ek is net ‘n mens. Een wat daarvan hou om ou goed funksioneel te maak sodat dit nie vernietig word nie.”

Sy werke weerspreek hom bietjie. Daar is die lampies gemaak van ‘n outydse vleismeuletjie, ‘n primusstofie en ou weermag harde hoede.

Een van die seilbootjies wat Johan maak met ou hout.

Die bootjies uit hout, die horlosies uit wieldoppe en die messe gemaak van halwe skaapskêre. Johan is altyd op die uitkyk vir ou goed wat hy kan omskep in iets bruikbaars.

“Die ou goed het nog ewigheidswaarde, maar vandag se goed, kan nie bewaar word nie. Dis vir my belangrik dat die jonger geslag darem min of meer weet wat is ‘n skaapskêr,” beduie hy.

Hy was van kleinsaf lief om goed te maak wat anders is. Dan het hy ook ‘n passie om met hout te werk. Sy seun het ‘n meubel besigheid en vandaar kry hy gereeld egte stukke hout waaruit hy iets maak.

Soos die blok eikehout wat aan die eenkant ‘n gat gehad het. Johan het ‘n ou koperkraan aangesit met ‘n gloeilampie wat soos ‘n druppel lyk. Die lampie het gelyk asof dit water was wat die hout so uitgekalwe het.

Die lampie is verkoop, maar Johan sorg dat hy foto’s van alles neem, want elkeen van die goed wat hy skep is ‘n deel van hom, ‘n stukkie van sy menswees.

Vir sy kleinkinders is hy Oupa Uil. Die wyse oupa met ‘n belangstelling in Suider-Afrika se politieke geskiedenis, maar ook die een wat interessante dinge maak, wat stories kan vertel.

“Agter elkeen van my goed is nostalgie, ‘n storie wat vertel kan word.” Hy skud sy kop, “dis jammer dat mense nie meer die kuns van kommunikasie verstaan nie. Almal het altyd ‘n selfoon in die hand. Ek werk veel eerder met ‘n goeie stuk hout of restoureer ‘n ou meubelstuk,” sug hy.

Beduie dan trots na sy voorgeslagte se foto’s teen die muur, die ou draagbare klein radio en die stoel waarop sy oupa nog gesit het wat nou in een van die kamers pronk.

‘n Filosoof voorwaar, ‘n geskiedenis liefhebber en ‘n kunstenaar, al wil hy homself nie die titel toeëien nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button