‘n Vrolike oggendtee vir vroue by die Eike
Wanneer AVBOB en Helpende Hand Vanderbijlpark 'n okkasie reël gaan hul groot en dis altyd lekker. Lees meer...
VANDERBIJLPARK – Die dames van Herfsoord, die Eike en Huis Siesta is Vrydagoggend in die oord se Eikesaal bederf met ‘n Moedersdagtee.
Die oggend is deur Helpende Hand Vanderbijlpark-tak gereël in samewerking met AVBOB. Die saal is pragtig opgemaak en daar was vrugtesap, koffie, tee en baie gesels op die spyskaart.

Elke dame het skons met kaas en konfyt gekry terwyl daar gewag is vir die groot trekpleister vir die dag, die Vaaldriehoek se eie Manie Jackson.
Hy het dadelik die gehoor om sy pinkie gedraai en hulle met van sy treffers bederf. Nadat die laaste note opgeklink het, is die bedankings gedoen en het Helpende Hand se span nog sjokolade met Bybelverskaartjies aan uitgedeel, terwyl Manie met ‘n paar van sy bewonderaars gesels het.

Johann Viljoen van Helpende Hand Vanderbijlpark-tak het die manne van die oord verseker dat hul wel ook ‘n spesiale Vadersdagbederf vir hulle sal hê, “maar darem nie met al die pienk nie,” het hy met ‘n groot glimlag verseker.
