Ek sê maar net… Stadsverkeer, aikôna, ek vat die Vaal se paaie
RUBRIEK - Kyk die slaggate in Vanderbijlpark se paaie is erg, maar die massa verkeer en hoe hul bestuur in die stede is erger.
RUBRIEK – Dinsdag moet ons Pretoria toe ry. Dis ‘n gedoente net om werkskedules so te kry dat die tog aangepak kan word.
Ons moet 13:30 daar wees. Of altans, ek moet daar wees. So sit ek eers en kyk die jongste Bridget Jones rolprent klaar. Ons hoef mos darem nie die perdekar in te span tot daar nie.
Johan speel chauffeur en gaan saam vir morele ondersteuning. Hy weet mos ek raak in die laaste tyd geheel paniekbevange met al die verkeer op die snelweë. Kan nie dink ek het drie jaar terug nog alleen Graskop toe en terug gery nie.
Dink dis vandat ek die groot vyf geslaan het, want dit voel mos vir my die bane het gekrimp en myse Mich het groter geword.
Kyk, die Vaaldriehoek se slaggat-ryery is kinderspel teen daai verkeer. Vragmotors net waar jy kyk en hulle kyk nie. Sit net flikker aan en foeter in die regterbaan in om ‘n ander vragmotor verby te vat.
Gewoonlik op ‘n opdraande. Dan lyk dit kompleet soos Krismis soos die rooj liggies van die motors aangaan met almal wat rem trap. Ten minste sit die ou grotes flikkerligte aan.
Die manne en vroue in die duur, splinternuwe modelle kon blykbaar nie die ekstra geld uithaal vir die luukse van flikkerligte nie. Hulle swenk sommer so links, regs, links, tussen die motors deur.
Moet ook maar rem aanslaan vir die vragmotors al is hul remligte nou sulke fraaie rooi driehoekies. Soos ons Midrand nader bekyk ek al die grênd kantoorgeboue, hoofkantore van al wat ‘n groot naam in SA is.
Man, dis baie vensters en hoeke en hiper moderne boustyle. Die snelweg het nie ‘n enkele slaggat nie en wraggies die lamppale staan nog almal.
“Mense wat hier ry sou dink dit gaan goed met SA en dat ons ‘n eerste wêreld land is,” opper ek my opinie.
“Maar nie soos wat die mense ry nie,” beklaag ek my lot sekondes later oor ‘n onverwagse remtrap wat ek nie sien aankom het nie en my amper whiplash gegee het. ‘n Motor het sommer daar van heel links af sy weg tot voor ons gevind.
Ons stop wonder bo wonder betyds voor die ingang en verdwaal net na die spesialis se spreekkamer binne die gebou. ‘n Uur later is ons terug op die snelweg. Die verkeer is aansienlik meer.
“Ek wil nie weet hoe lyk dit spitstyd nie,” skud ek kop. Veilig by die huis. Doodstil en half donker, want daar is weer beurtkrag.
“Is okay”, sê hy en sit die radio se batterye in. “Ja,” sê ek, “maar gaan haal vir ons albei hoofpynpoeiers.”
Môre werk ons weer, maar ten minste hoef ons nie in daai stadsverkeer te ry nie.
