Parys-paaie verniel en net so gelaat
PARYS - Die AfriForum-tak in die dorp het hom tot die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gewend om dringend by Parys in te gryp nadat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit die paaie in en om die dorp, wat deur die padagentskap bestuur word, in ’n haglike toestand gelos het.
Een van die paaie wat die munisipaliteit in ’n haglike toestand gelaat het is die R59 by die Rivershed-winkelsentrum.
Die munisipaliteit het dwars oor die pad ’n sloot gegrawe om ’n waterlek te herstel, maar die herstelwerk is gestaak, glo omdat die regte toerusting nie bekom kon word nie.
Die munisipaliteit, wat veronderstel was om Sanral oor die werke in kennis te stel, maar versuim het om dit te doen, het toe dié sloot met grond toegegooi.
Die grond is egter nie gekompakteer nie en hou ’n groot risiko vir motoriste in, wat nou slegs aan een kant van die pad ry om dit te vermy.

“Die munisipaliteit is nie veronderstel om enige werk aan die pad te doen sonder om Sanral daaroor in kennis te stel nie. Die munisipaliteit het ook nie eens met Sanral geskakel om bystand te ontbied om die pad in die tussentyd meer rybaar te maak nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder van die Mooirivier.
Volgens Schalk Burger, AfriForum se voorsitter van die Parys-tak, was Sanral se Kroonstad-kantoor nie eens bewus van probleme op die R59 nie totdat AfriForum hulle oor die situasie in kennis gestel het.
Sanral het intussen besoek afgelê en is dit eens dat die grond nie gekompakteer is nie, wat beteken dat dié pad mettertyd net nóg gaan versleg. Sanral het onderneem om ondersoek in te stel na moontlike oplossings.
“As gevolg van die swak toestand van paaie in en om Parys, begin inwoners toenemend self red wat daar te redde is, wat ’n uiterse duur oefening is. Parys kort nie nóg slaggate nie, daarom is dit tyd dat die munisipaliteit tot verantwoording geroep word en behoorlike herstelwerk doen,” voeg Schalk Burger, AfriForum se voorsitter van die Parys-tak by.
AfriForum is reeds in die proses om die munisipaliteit vas te vat vir sy voortslepende gebrek aan dienslewering deur middel van ’n hofaansoek.
Die burgerregteorganisasie het in Desember verlede jaar ’n aansoek by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is.
Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas as dit nie sy pligte nakom nie. Die burgerregteorganisasie wag steeds op uitspraak in dié saak.
