Wanneer wêrelde bymekaarkom
Deernis, empatie en samewerking het hierdie goed voel storie moontlik gemaak. Lees meer...
VEREENIGING – Saterdagoggend was ‘n bedrywige oggend vir een van die dorp se groot restaurante.
Aan die eenkant tafels vol militêre veterane en by nog ‘n tafel die mense in hul swart T-hemde wat in helder oranje MS-Warrior of MSondersteuner verkondig.

Nee, die twee organisasies het nie per ongeluk dieselfde restaurant bespreek nie. Hierdie was ‘n samekoms van twee verskillende groepe wie se wêrelde gekruis het.
Die veterane was daar vir hul gereelde OPS Kolgans ontbyt, die MS-Hoop groep om een van hul lede se ma’s moreel te ondersteun.
Sersant-majoor Colin Church se dogter, Richenda, is ‘n MS-lyer. Die siekte het haar al afgetakel tot in ‘n rolstoel, maar sy glimlag steeds en het ‘n positiewe woord vir almal om haar.
By MS-geleenthede hou veral Elré van der Merwe, self ook ‘n MS-lyer, ‘n oog oor haar. ‘n Ruk terug het Elré se ma vanuit Oudshoorn verhuis om by Elré te bly’.
Tannie Hester Strauss is al 88 en het dringend ‘n rolstoel benodig. MS-hoop het uitgereik na die weermag veterane en Saterdag is die rolstoel aan Tannie Hester oorhandig.
“Nou kan my ma darem bietjie uitkom ook. Sy was nog die heeltyd in die huis gekluister omdat sy nie regtig meer kan loop nie. Ons kan nou die Vaaldriehoek gaan verken,” het Elré opgewonde gesê.
Tydens die OPS Kolgans ontbyt moes die veterane ook afskeid neem van sersant-majoor Church, wie onlangs na Randfontein verhuis het.
Hulle het met trots vir hom ‘n geraamde hout kanon, gemaak deur adjudant Johan van Niekerk, oorhandig.
Daarna het hy ook ‘n sertifikaat ontvang wat hom aangewys het as Beskermheer van Sektor Wilger 1.4. Op sy beurt het hy hul verseker dat hy reeds deel is van OPS Kolgans in Randfontein.
