Local newsNews

Ma en dogter duo weet hoe om besigheid te doen

Sulé du Preez 'n Graad 12-leerder aan die HS Driehoek het verlede jaar besluit om ekstra geld te maak deur jam te kook en te verkoop, vandag kan sy nie voorbly nie.

VANDERBIJLPARK – Wilna du Preez was op haar dag ‘n blokvrou. Van vleis kan jy haar nie veel vertel nie. Langs die pad het sy besluit, sy gaan eerder by die huis bly en haar jongste dogter grootmaak.

Dit was totdat ‘n vriend gevra het of sy nie asseblief pakkies biltong vir sy kroeg wil maak nie. Een ding het tot ‘n ander gelei en toe sy weer sien, het sy haar eie biltong en spitbraai besigheid aan die gang.

Sy maak en verkoop tot 10 soorte biltong en haar stalletjie is gereeld ‘n treffer, veral by die motorfietssaamtrekke. Sy is hoeka self ‘n motorfietsryer.

Verlede jaar het sy op ‘n stadium haar dogter, Sulé (toe in Graad 11) gevra of sy nie wil help by die stalletjie nie. Sy het ingestem, maar teen die tyd wat hulle by Graan SA se Nampo uitgestal het, het Sulé besef sy wil iets vir haarself ook doen.

“Ek kan nie net my ma ryk maak nie, ek wil ook geld verdien,” beduie sy. Boonop het sy geweet sy moet begin geld maak vir haar matriekafskeidrok. “Ek wou nie hê my ma moet vir alles betaal nie,” sê sy.

Die eerste ding wat sy nader getrek het was haar ouma se resepteboeke. “Ek het die tamatiejam probeer, jy weet die regte outydse resep en dit was dadelik ‘n treffer.”

Gou het haar besigheid sy eie stem gekry as Jam & Joy, naas haar ma se Boskraal Biltong. Sy het al hoe meer begin maak en haar familie moes maar proe.

Vandag verkoop sy sewe soorte jam waaronder pynappel, tamatie, mango en ‘n lekker marmelade. (Ek het geproe.) Dan is daar ook Cowboy Candy. Sy beskryf dit as Jalapenorissies in ‘n stropie.

Van Sulé se tuisgemaakte botteltjies jam. Foto verskaf: Wilna du Preez

Die het sommer die eerste naweek al opslae gemaak. “Ek dink heeltyd aan nuwe produkte. Soms werk dit, soms nie. Ek sal nooit iets verkoop wat ek nie self sal eet nie. Al die produkte wat ek gebruik is vars en die bottels is elke keer nuut.

“Die produk moet aanloklik lyk en by my tafel is daar altyd botteltjies waar mense eers kan proe voor hulle koop,” verduidelik sy.

Haar ma is haar inspirasie en sy sê Wilna het haar geleer hoe om met mense te werk. Behalwe vir Jam & Joy werk sy ook na-ure as kelner. Nie dat ‘n matriekleerling baie ekstra tyd op hande het nie, maar Sulé maak ‘n plan.

Haar visie is om eendag haar eie jams in haar eie koffiewinkel te kan verkoop. Teen dié pas sal die visie redelik vinnig ‘n werklikheid word

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button