Local newsNewsNews

Rubriek: ELM trek jou sokkies op of dit word vir jou gedoen!

Ek gaan sommer met die deur in die huis val! Vandag is ek bitter. Bitter soos gal. Bitter en kwaad. My aspirasies en drome om as die Vaaldriehoek se pothole putt-putt koning gekroon te word lê aan skerwe. Net toe my voorgee aan die enkelsyfers begin lek-lek, kom die klomp oorywerige sakemanne van die Vaal …

Ek gaan sommer met die deur in die huis val! Vandag is ek bitter. Bitter soos gal. Bitter en kwaad. My aspirasies en drome om as die Vaaldriehoek se pothole putt-putt koning gekroon te word lê aan skerwe.

Net toe my voorgee aan die enkelsyfers begin lek-lek, kom die klomp oorywerige sakemanne van die Vaal Business Coorperation (VBC) en herstel amper al die slaggate in Vanderbijlpark en Vereeniging.

Hoe durf hulle?! Waar moet ek en onse geliefde burgemeester en sy uiters bekwame munisipale bestuurder nou balletjies gratis rondslaan? Maar alle grappies op ‘n stokkie. Hendrik van Eck-boulevard is ook weer rybaar danksy die onbaatsugtige werk wat die gemeenskapsorganisasie verrig.

In plaas van om samewerking van die munisipaliteit of ‘n klop op die skouer te kry, word die VBCtaakspanne deur ELM-amptenare geteister en gedreig. Die VBC is oral besig om die Vaaldriehoek se infrastruktuur op te knap. Water en krag probleme word ook opgelos.

Die Premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het vroeër vandeesmaand in Johannesburg na ‘n besoek aan Sedibeng fel kritiek uitgespreek oor hoe vuil die Vaal is.

Maar dade spreek harder as woorde. En dis hoekom die VBC soveel weerstand kry. Dank vader vir waghonde soos hierdie wat uitkyk vir die gemeenskap.

Maak nie saak of jy vir die EFF, DA of ANC stem nie. Jou veiligheid, regte en beleggings word beskerm. Kyk maar net na die onlangse struwelinge oor gerugte dat die beleerde brandweerstasie van Vanderbijlpark gaan sluit.

As daar een ding is wat mens met ELM geleer het, is dat waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie. Met die sluiting van en aanvalle by stortingsterreine het die beboste en onbewoonde areas rondom Mario Milani rylaan in Vereeniging eerste in ‘n septiese seeroog verander.

Dit het nou al so wyd uitgekring dat skoonmaaksessies digby skole gereël moet om vullis en rommel skoon te maak. Dan is daar ook AfriForum wat weekliks honderde meters gras sny om ‘n mate van beskawing aan die gemeenskap te besorg.

Die Emfuleni Munisipaliteit (ELM) gedra hom soos die astrante ventjie wat heelagter in die kerkbanke sit, kliphard poep en dan die vermetelheid het om verbaas om te kyk.

Almal weet wie verantwoordelik is vir die klank en stank! So kom ELM trek jou sokkies op of iemand anders gaan dit vir jou doen!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button