Bonfire & Sherryfees was kookwater
Die Centurions MC Vaal se Bonfire & Sherryfees was so groot, Vaalweekblad het besluit om nog foto's te plaas, hier en in die Vaalweekblad. .
VANDERBIJLPARK – Dis tradisie. Dis lekker. Dis die Centurions Vaal Motorfietsklub se jaarlikse Bonfire & Sherryfees.
Vir meer as 25 jaar al word ‘n dag in die hartjie van die winter opsygesit vir hierdie groot dag. Saterdag was dit weer sulke tyd.

Die bikers het van 10:00 af hul weg na die Centurions klubgronde in Shakespearestraat gevind. Motorfietsryers het van so ver as Johannesburg kom deel in die feesvieringe.
Natuurlik was baie van die Vaaldriehoek se motorfietsklubs goed verteenwoordig. Die motorfietse het in die son geblink en die mense het tot laatmiddag by die hek ingestroom.

Dit was by verre een van die grootste Bonfire & Sherryfeeste tot op hede. Vanjaar het sowat 660 mense die fees bygewoon.
DJ Ben was op sy pos om musiek te verskaf en Andries Botha het gesorg vir rock-musiek uit die boonste rakke. Die man mag maar sing en kitaar speel.
Daar was kort-kort mense wat vas en losgedans het en op ‘n kol het Leader of the Pack se dames selfs getwist!

Van die manne het hul motorfietse gebrand dat die rook staan, terwyl die ander net toegekyk het. Almal het gekuier.
Vlak voor 17:00 is die groot vuur aangesteek. DJ Ben het gepas Hardekole gespeel en motorfietsryers het summier ‘n kring gevorm en saamgesing. Inderdaad, ‘n hoendervleisoomblik.

Die vlamme het hoog die lug ingeskiet en ‘n groot radius om die vuur warm gemaak. Daar is saamgesing, gedans en gesels.
Tot volgende jaar, wanneer die sherry weer gaan loop en die bonfire die nag helder gaan maak.

