‘Bid asb. vir klein Jennifer’ pleit ouma
Die vyfjarige kleuter het derdegraadse brandwonde opgedoen toe sy in 'n emmer kookwater geval het. Dit gaan glad nie goed met haar nie!
VEREENIGING – Dit gaan tans glad nie goed met die vyfjarige Jennifer nie. Sy is nou reeds agt weke in die Sebokeng-hospitaal nadat sy ernstige brandwonde opgedoen het toe sy in ’n emmer kookwater geval het.
Sy sal na verwagting nog minstens agt weke daar moet deurbring, terwyl die pad na herstel by die dag moeiliker word.
Jennifer moes verlede week ’n strawwe, urelange operasie ondergaan om dooie weefsel van haar brandwonde weg te sny. Dit beteken dat die wonde nou weer rou is.
“Sy het steeds baie seer. Elke keer as die verpleegspersoneel haar wonde skoonmaak, kan mens die pure vrees op haar gesiggie sien. Sy pleit deurlopend by my dat hulle haar nie moet seermaak nie,” vertel haar ouma en wettige voog, Jenny Stander.
Dit is ’n prentjie wat enige ouerhart sal breek.
Medies gesproke is die situasie tans ook kommerwekkend. Jennifer veg teen ’n hoë koors en weens die trauma wil sy nie meer eet of drink nie.
“Jennifer verlang huis toe. Sy vra deurentyd dat ons haar in haar kombersie moet toedraai en motor toe dra. As ons vir haar probeer verduidelik dat sy nog te siek is, sê sy sy sal sommer self soontoe loop,” vertel ’n hartseer Jenny.

Pleidooi vir oorplasing
Die koste om Jennifer na ’n hospitaal nader aan haar ouma in Risiville te laat oorplaas, begin by sowat R150 000.
Haar familie kan dit egter nie bekostig nie en het daarom ’n BackaBuddy-fondsopname begin om die nodige skenkings in te samel.
“Ons vra die gemeenskap om asseblief te dink aan haar in hul gebede. Ons pleit ook vir enige finansiële hulp om Jennifer se fonds te ondersteun sodat ons haar kan laat oorplaas na ’n fasiliteit waar sy die nodige gespesialiseerde sorg kan ontvang en haar meer gereeld kan besoek,” vra Jenny.
Agtergrond
Die kleuter het agt weke gelede by haar ouerhuis op die Mooilande-kleinhoewes tussen Vereeniging en Meyerton oor iets gestruikel en agteruit in ’n emmer kookwater geval.
Sy het derdegraadse brandwonde aan haar maag, rug, bo- en binnebene, boude en privaatdele opgedoen.
Daar is aanvanklik vir haar lewe gevrees toe haar liggaampie weens ’n ernstige infeksie in skok gegaan het.
Dokters het reguit gesê dat slegs ’n wonderwerk en gebede haar sou deursien.
Hoewel Jennifer aanvanklik begin herstel het, is sy tans in konstante pyn – selfs wanneer sy verdoof word tydens die skoonmaakproses.
Sy sal na verwagting nog minstens drie operasies moet ondergaan vir veloorplantings en die verwydering van dooie weefsel.
Indien enigeen die gesin finansieel kan bystaan om Jennifer na ’n privaathospitaal oor te plaas, kan Helena Lombaard (wat namens die gesin optree) gekontak word by 071 932 3933.
Skenkings kan ook direk op BackaBuddy gemaak word: https://www.backabuddy.co.za/campaign/help-jennefer-continue-her-fight


