Dié karnaval was die lekkerste lekker
Laerskool Eligwa se groot karnaval was die ideale manier om te ontspan voor die eksamens begin.
VANDERBIJLPARK – Die eerste eksamens vir die jaar is op hande en onderwysers, leerders en ouers begin die spanning voel.

Om almal bietjie van die eksamen stres te laat vergeet het Laerskool Eligwa op 9 Mei die karnaval van karnavalle aangebied.
Angelique Bezuidenhout sê behalwe om almal bietjie te laat ontspan, het die dag ook as fondsinsameling gedien en was dit ‘n manier om ouers te betrek deur hul in beheer van die stalletjies te plaas.
Die tema vir die dag was SpongeBob SquarePants en elke graad het volgens ‘n spesifieke karakter uit die reeks aangetrek.
Die skool het omtrent gewemel van Plankton, Gary, SpongeBob SquarePants en Mr. Krabs in alle grotes en ouderdomme. Behalwe vir die groot optog waar elke graad hul tema en plakkaat ten toon kon stel was daar baie om te doen deur die dag.
Die veld was besaai met springkastele, slip-a-slides en selfs ‘n rocket ride. Daar is windbuks geskiet en wat is ‘n karnaval sonder ‘n colour run?

Dan was daar die gewilde hondevertoning deur Bullet van A’s K9 Training en Vaal Equestrian het met hul perde kom kuier.
By die stalletjies is daar alles van sosaties en wors tot by lekkernye verkoop. Een en almal het die dag geniet en dit was moeë maar kleurvolle leerders wat later huiswaarts gegaan het.

