Preemie Markus is gesond, tuis en ‘n gelukkige baba
Na drie lange maande is klein Markus uiteindelik tuis en gesond.
VANDERBIJLPARK – Klein Markus Olivier het Vaalweekbladlesers se harte aangeraak toe hy op 27 weke gebore is.
Die eerste drie maande van sy lewe was moeilik. Daar was die bakteriese infeksie wat hy gekry het toe hy maar vier dae oud was.
Kort daarna is ‘n bloedklont in sy regterhand gevind. Dit het na sy vingertjies versprei en sy vingerpunte het natuurlik geamputeer.
Stadig maar seker het Markus se toestand verbeter. Het die infeksietellings gedaal, kon hul die suurstof verminder en het hy self begin asemhaal en drink.
Die week het sy ma, Denice Olivier, laat weet Markus is 9 Mei ontslaan. Dit gaan baie goed met hom.
Hy het twee pompies wat hy moet gebruik, maar andersins is hy 100% gesond. Hy vat ook mooi met die handjie waarvan die vingerpunte geamputeer het.
“Markus is nou drie maande en ‘n week oud en hy is ‘n baie soet baba. Dis vreeslik lekker om hom by die huis te hê,” sê Denice.
Sy ouer boetie, Dewald, het begin huil toe hy Markus die eerste keer kon sien. Vir al die tyd wat Markus in die hospitaal was mag Dewald hom nie besoek het nie. “Hy was nie eens toegelaat om hom deur ‘n glasvenster te sien nie.”

Markus sal oor twee weke weer na die hospitaal in Sandton toe moet gaan vir ‘n opvolg besoek en dan sal hy oor ses maande ‘n plastiese chirurg moet gaan sien om te kyk na sy regterhand se vingers.
Intussen het die Oliviers hul ook na die ombudsman gewend in ‘n poging om hul mediese fonds sover te kry om die hospitaalkostes te dek.
Die privaathospitaal wat die afgelope twee jaar nog deel van hul mediese fonds se netwerk hospitale was, is intussen van die lys afgehaal. Dit laat hul met ‘n 35% bybetaling op alles van die hospitalisasie tot by spesialis besoeke.
“Ons wag nog vir die laaste rekeninge om in te kom, maar dit draai al verby R500 000.” Hul Back-a-Buddy veldtog is nog aan die gang.
Donasies kan gemaak word by https:// www.backabuddy.co.za/ campaign/markus-little-warrior-journey-home.
“Daar word ook fondsinsamelingsprojekte beplan, onder andere deur ‘n motorfietsgroep, maar ek het nog nie details nie,” sê Denice.
Oor die rekeninge sal hul hulself laterl. bekommer, vir nou geniet hulle dit om klein Markus uiteindelik gesond by die huis te hê.
