Altyd besig ten spyte van MS-gesondheidstryd
Elré van der Merwe vat die lewe op 'n drafstap aan en is 'n inspirasie vir oud en jonk.
VAALPARK – Elré van der Merwe is in Junie 2023 met veelvuldige sklerose, of MS soos almal dit ken, gediagnoseer. “Ek het op daardie stadium nie eens geweet wat is MS nie,” vertel sy.
Sy het al hoe meer verskriklike hoofpyne begin kry wat sy toegeskryf het aan alles van sinus tot migraine. Op daardie tydstip het sy ook gereeld geoefen en dan was haar lyf styf en seer wat sy aan die oefening toegeskryf het.
Elré onthou sy het eendag sleg gevoel by die werk en in die hospitaal wakker geword. Sy was op daardie stadium heeltemal verward en het nie haar dogter erken nie. Na ‘n week in die hospitaal is sy na ‘n neuroloog in Pretoria verwys.
Na vele skanderings is bevind dat sy MS het. Alhoewel dit haar ‘n tyd geneem het om die diagnose te aanvaar het sy besluit dis nie ‘n doodsvonnis nie.
Sy het aangegaan met haar lewe. Werk steeds voltyds in die motorbedryf en leef haar passie vir kosmaak en bak na-ure uit.
“Ek ontvang baie genade. Ek kan nog aan die gang bly. Die MS slaan net so nou en dan toe. Dan het ek ook ‘n groot ondersteuningsgroep. Selfs by die werk is daar kort-kort een wat inloer om te kyk of is ek okay. Hulle sê hulle kan aan my oë sien as dinge begin skeefloop.
“Ek het ook nou al die tekens leer ken en weet om betyds die pille te drink voordat een van die MS hoofpyne toeslaan,” vertel sy. Sedert sy gediagnoseer is, het iemand ook vir Rozaan Steyn, stigter van MS-hoop van haar vertel.
Rozaan het haar gekontak en vandag is Elré aktief betrokke by MS-hoop. “Ek doen hul finansies,” verduidelik sy. “Iemand moet so nou en dan vir Rozaan en Gerrie Hadders sê nee,’ lag sy.
Alhoewel sy goed aangaan het die MS tog sy tol begin eis. Waar sy in die verlede by die 700 kolwyntjies in die aande kon bak en lief was om groot koeke te bak en te versier, kan sy dit nou nie meer doen nie. Haar gewrigte word te seer en dan trek haar hande inmekaar.
“Ek hou die bestellings vir kolwyntjies nou onder 300 en bak nie meer groot koeke nie,” beduie sy. Naas al die dinge wat haar reeds besig hou, het Elré se ma en suster ook in Februarie by haar kom bly en sien sy ook na hulle om.
Hoe kry sy dit reg? “Dis mind over matter. Ek hou my hande en my brein helder en aktief. Sit ek te lank word ek styf, daarom bly ek altyd aan die gang.”
