Ek sê maar net… Drama en dans op ‘n Dinsdag
RUBRIEK - Die jonge ballerinas en akteurs in wording het vir 'n goeie uur of wat van vermaak gesorg. Lees meer
RUBRIEK – Dinsdagmiddag gaan maak ek ‘n draai by Kunstedraai om so bietjie met die juniors van die dramaklas en balletklas te gesels. Die lawaai vanuit die drama studio is groot.
Ek is verbaas om net vyf jongelinge en hul Juf Franciska aan te tref. Blyk toe hulle is almal besig om te oefen om sommer so vinnig iets op te voer met lappe en pette wat hul ontvang het.
Franciska beduie ek kan my in die kamer langsaan tuismaak. Sy sal die jongspan so een vir een instuur.
“Twee van hulle is Engels,” sê sy bietjie benoud en ek lag. Dink ek moet dalk nie met soveel oortuiging vir almal vertel ek kan nie Ingels goed praat of skryf nie.
Dis ‘n jong mannetjie wat instap. Die Ingelse enetjie. Ek kan sommer sien hy is ‘n wakker rakker. Ek groet hom in hogere, formele Ingels met ‘n aksent direk uit Buckingham paleis. Hy vang dadelik die grap en antwoord my op dieselfde toon terug.
Ek gesels lekker met elkeen en so tussendeur kry ek nog warm cappuccino ook. “Is sy oulik?” hoor ek ‘n meisie vra toe dit haar beurt is. Ek glimlag toe ek darem ‘n koor van bevestiging hoor.
Van die dramaklas vind ek my weg na die ballet studio. Ek kort nog een jongeling om mee te gesels. “Sit solank,” sê hul Juf Riette, “die wat so bietjie ouer is, is op pad.”
Op die verhoog is drie kleintjies te fraai getooi in pienk. Op die maat van ‘n Afrikaanse kinderliedjie huppel en trippel hul vrolik rond.
Die eerste jonge dame, sy is in graad 3, vir die volgende klas maak haar verskyning. “Gaan gesels met Tannie Gerda,” kry sy opdrag en ek sien haar ogies rek groot.
Ons gaan sit in die voorportaal en sy ontspan. Glimlag vir die kamera en knik die kop toe die foto na wense op die skermpie verskyn. Die res van die klas het intussen opgedaag.
Almal in hul cheerleader kostuums vir die groot Afrikaans word 100 konserte waarin hul volgende week optree. Op die maat van ‘n Kurt Darren lied kry hul, hul passies in.
Die musiek stop. “Juffrou ek het nie genoeg plek nie?”
“Juffrou ons het laasweek daai verander.”
Ek wonder hoe hou juffrou dit, maar sy bly geduldig met die kleintjies. Al is daar soms ‘n regtervoet uit in plaas van links en arms op in plaas van af.
Op pad uit kry ek die drie ballerinatjies in pienk. Hulle speel wegkruipertjie, asof mens hul helder pienk uitrustings kan miskyk.
Wat my opval is dat almal lag en gelukkig lyk. Dis seker wat gebeur as kinders doen waarvan hul regtig hou, met drama en dans afrigters wat met hope geduld, liefde en passie vir hul werk die klasse aanvoer.
