Local newsNews

Pekinese prinsies weet hulle is wafferse wollerige wenners

Vaalweekblad het nader gaan kennis maak met ons troeteldierkompetisie wenners, Woer-Woer.

MEYERTON – Met die Herfsson wat verbasend warm Saterdagmiddag gebak het, was die wenners van Vaalweekblad se Troeteldierkompetisie nie vreeslik lus vir die lastige joernalis met haar kamera nie.

Woer-Woer is ‘n tweeling, maar hulle is nie identies nie. Woer 1 is groter as sy boetie en hy lyk kompleet soos ‘n stout kleuter wat sy mond oor iets opgeblaas het.

Dis nou hoe twee prinse lyk wat nie lus is om afgeneem te word nie! Foto: Gerda Bruinette

Woer 2 lyk of hy Zorro se masker om sy oë het. Sy ogies blits vies as hy hoor mense sien hom vir ‘n dogtertjie aan. Dis mos nie sy skuld hy is nie so groot soos Woer 1 nie!

Loukie de Lange sê Woer 2 is definitief die astrante een van die twee. Monique Labuschagne stem saam, Woer-Woer het uiteenlopende geaardhede.

Die twee hondjies is September verlede jaar gebore en Loukie en Monique het hulle in November gekry toe hul twee maande oud was. “Ons het hulle in Middelburg, Mpumalanga gaan haal,” vertel Loukie.

Hulle het gesukkel om name vir die twee hondjies uit te dink. Uiteindelik is daar op Woer-Woer besluit. “Hulle luister as ons Woer roep, dan kom albei aangedraf,” lag Loukie.

Woer 2 gaan sit mooi op Monique se bevel om ‘n happie snoepgoed te kry, maar Woer 1 voel hy is geregtig om te eet en hoekom het hy nie al ‘n tweede porsie nie?

Loukie en Monique is lief vir diere en sê hulle het reeds twee voëltjies, twee bejaarde Jack Russels en Skillie die skilpad by die huis.

“Woer-Woer is die babas,” gesels Monique terwyl die twee hondjies uit die hoogte toekyk en so nou en dan ‘n verveelde gaap gee.

Hulle kyk na vele pogings uiteindelik vir die kamera voordat hul stertswaai motor toe draf vir ‘n welverdiende blaaskans na al die opwinding.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button