Local newsNews

Op een plek, maar 864km verder in 24 uur

NG Fonteine het 'n unieke fondsinsamelingsnaweek gehad waar daar hard getrap is maar ook baie pret was. Lees meer...

SASOLBURG – Agt brawe manne het Vrydagmiddag om 15:00 aangetree by die NG Gemeente Sasolburg-Fontein se saal. Daar was een fiets gekoppel aan ‘n skerm met ‘n virtuele fietsryroete.

Die pannekoekbak kompetisie se trofee wat deur Wimpie van Niekerk ontwerp is.

Die plan was dat die agt manne elkeen ‘n uur op ‘n slag trap om 800km in 24 uur te doen. Die doel was om fondse in te samel en elkeen het borge gehad wat hul per kilometer geborg het.

Darem was hulle nie deurnag alleen nie. Hul vrouens was daar om koffie aan te dra, die junior jeug het ook ‘n oornag program van speletjies gehad, en selfs die Voortrekkerkommando van Sasolburg het op hul oefenfietse vir ‘n tyd lank kom saamry.

Dit was ‘n ver pad na nêrens en Nico Lombard (jr.), wie se breinkind die hele operasie was, sê hulle het sommer wanneer hulle nie getrap het nie, ‘n paar uur slaapplek op die kerkbanke gevind.

Laat nag en daar word steeds fiets gery.

“Almal het deurnag positief gebly en met al die aktiwiteite rondom ons het daar ‘n goeie gees geheers. Mense is ook met kort video’s en foto’s op die kerk se Facebookblad op hoogte gehou van hoe ons vorder en die aansporing en bemoediging was groot.”

Die fietsryspan het bestaan uit Nico Lombard (sr.), Nico Lombard, Attie Redpath, Bennie Geldenhuys, Gerhard Pretorius, Louw Beeslaar, Mauritz Vaaling en Herman Hoffeldt.

Vroeg Saterdagoggend het die hele kerkterrein weer lewe getoon. Daar is onder andere ‘n pannekoekbak-kompetisie gehou. Wimpie van Niekerk het gereken so ‘n kompetisie is net wat nodig is om almal weer vrolik en wakker te kry vir die laaste skof tot 15:00.

Vrolik in rooi en oranje. Die pannekoekbak-kompetisie het vir groot pret gesorg.

Sy vrou, Yolandi, het die musiek verskaf en sê sy het reg oorkant die pannekoekspanne gesit, “dit was groot pret.”

Daar was vyf spanne van twee elk. Elke span moes 5l pannekoekmengsel skenk as hul inskrywingsfooi en alles moes gebak word.

‘n Buitebeoordelaar is gekry en daar is punte gegee vir onder andere die beste pannekoek flip, die span wat die meeste kon bak en natuurlik vir smaak.

Punte is afgetrek vir elke flop en so met die tyd saam het nuwe reëls bygekom, soos dat die floppies nie meer geëet of weggesteek kon word nie.

Dit was hope pret en al die pannekoeke is verkoop. Wimpie het ook ‘n unieke trofee gemaak wat aan die wenspan, Minette en Renate Steurer, oorhandig is.

Die wenners met hul trofeë, Minette en Renate Steurer, saam met Daniella en Tyler Swart en die beoordelaar Pieter Smit.

Intussen het die fietsryers hul eie doelwit verbygesteek en 64km verder gery as wat beplan is.

Gaan hulle die aksie volgende jaar herhaal? “Dis nou soos om ‘n atleet te vra of hy weer volgende jaar die Comrades gaan hardloop net nadat hy oor die eindpunt gekruip het,” lag Nico. Dis wag en sien wat dink die kreatiewe klompie uit vir 2026 se fondsinsameling.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button