Western Mounted Games hierdie naweek in Sasolburg
SASOLBURG - Deelnemers aan perdesport gaan binnekort hul weg vind na Riverside Equestrian Centre wat die gasheer van die Vrystaat Western Mounted Games Interprovinsiale kompetisie gaan wees. Lees meer oor die aksie-belaaide perdesport.
Die kompetisie sal oor die naweek van 14 tot 16 Junie aangebied word.
Tydens die kompetisie sal ruiters en hul perde aan 13 afdelings van die sport kan deelneem waartydens hul spoed en presisie beproef sal word.
Dit is ook geleentheid vir die ruiters om vi die Nasionale kompetisie in Oktober te kwalifiseer.
Riverside Equestrian Centre spog met verskeie ruiters wat op eie bodem in aksie gaan wees.
“Ons ruiters verteenwoordig ook hulle skole tydens die kompetisie. Hoërskool Driehoek word verteenwoordig deur Jessica Deyzel en Dané Scholtz, terwyl Vené Meyer Hoërskool Transvalia verteenwoordig,” sê Santie Walters van Riverside Equestrian Centre.
Plaaslike inwoners en liefhebbers van perdesport word genooi om die kompetisie by te woon en in die opwinding te deel. Toegang is gratis.
Daar sal ook kosstalletjies wees waar lekkernye en koeldrank te koop sal wees. om besoekers te bederf.
Ontmoet die Riverside Equestrian Centre ruiters wat met trots aan die kompetisie gaan deelneem:
Dané Scholtz & Midnight – Die perdry-gogga het Dané reeds op sesjarige ouderdom gebyt. Sy het in 2016 by ‘n ryskool aangesluit (wat later as Riverside Equestrian Center gekend gestaan het). In 2022 het haar ouers besluit dat sy haar eie perd kon kry. Dit is waar haar “sielsgenoot” Midnight Stargazer in haar lewe gekom het.
Nou 3 jaar later het dié duo van vlak 0 tot vlak 3 gevorder. Vlak 4 is die hoogste wat mens kan vorder in Western Mounted Games.

Justin & Kata – Van tragedie tot perde meester, dit is hoe die storie van Justin Engelbrecht loop. Op ‘n vroeë ouderdom was Justin in ‘n motor ongeluk wat hom verstandelik gestrem gelaat het, selfs dokters het gesê dat daar geen hoop is nie. Maar Justin het geen vrees gehad wat perde aanbetref nie, en so het sy pad met perdesport begin. Met Western Mounted Games kon Justin sy passie uitleef en wys wat in hom steek. Van ‘n gestremde sonder hoop het Justin ontpop in ‘n man met n droom, en op ‘n gallop beleef hy en sy perd ‘n wêreld waar drome waar word en waar enigiets moontlik is.

Jessica & Hidalgo – In Augustus 2021 het haar ouers haar verras en na Riverside Equestrian Centre geneem. Sy was daar vir haar eerste perdry les, en natuurlik was die koeël deur die kerk. “Ek wou baie graag my eie perd hê. My ouers het my passie ondersteun en saam het ons na die regter perd vir my begin soek. In 2023 het ek Hidalgo in Randfontein gesien, ek het op hom gery en geweet ek hou baie van hierdie perd,” vertel Jessica. In Mei 2023 het haar droom waar geword en sedertdien is sy en Hidalgo ‘n gedugte span wat sommer met hul eerste deelname aan die sport na die 2023 Nasionale Western Mounted Games Kampioenskap deurgedring het. Hulle het dit ook in 2024 vermag en hoop om dieselfde hierdie jaar te kan doen.

Abigail, Jassur & Banshee – Abigail Fourie ry al 12 jaar perd. Sy is gelukkig om twee perde hê. “My perde het my al baie geleer en baie getoets en net die beste in my uitgebring, om my die ruiter te maak wat ek vandag is”. Abigail neem sedert 2017 deel aan Western Mounted Games en is ook ‘n afrigter by Riverside Equestrian Centre, terwyl sy studeer. “Ek sien uit daarna om te sien, ons ons vanjaar gaan vaar”.

