‘n Pynlike stryd na fratsongeluk by werk
'n Fratsongeluk by die werk het Bertie Barnard se hele lewe omvergewerp en na maande se pyn is die herstelproses uitermatig stadig en veeleisend.
VANDERBIJLPARK – ‘n Fratsongeluk en ses maande van hel! Dit is hoe gesinsman Bertie Barnard (54) se lewe in ‘n oogwink verander het.
Bertie veg steeds dat sy been nie geamputeer moet word nie. Op 11 Desember 2024 is sy been deur ‘n hyskraan vasgedruk. Hy is per helikopter na Alberton vervoer waar die eerste gedagte was om sy been te amputeer.
Sy vrou, Yolanda, sê daar was byna niks van sy been oor nie. Hy het al sy spiere verloor asook die limfsisteem. “Al wat sy been gered het was dat die hoofslagaar steeds onbeskadig was,” vertel sy.

Bertie het twee maande in die intensiewesorgeenheid deurgebring waarvan hy die meeste van die tyd op ‘n ventilator was. In die tyd is daar agtergekom dat sy longe ook beskadig is.
Daar is met veloorplantings begin, waarvan die wonde nie gesond word nie. Sy voet is ook permanent geswel en die dokters sê dis ‘n probleem waarmee hy lewenslank sal sukkel, aangesien die been se limfsisteem nie meer daar is nie.
Boonop het Bertie verskeie kere bakteriese infeksies in die hospitaal gekry. Vanaf Maart en April het daar meer komplikasies ingetree en vroeg verlede maand is hy met septisemie gediagnoseer. Hy het ook ‘n bloeiende maagseer van al die medikasie.

Sy nierfunksie was op ‘n stadium slegs 19% en hy moes dialise ontvang. Verder is hy nou met nie-alkoholiese lewersiekte gediagnoseer. Daar lê ‘n steil opdraande van rehabilitasie vir Bertie voor, asook traumaberading.
Alhoewel hy tans by die huis is, verduur hy ontsettende pyn en kan hy nie loop nie. Aangesien die besering aan diens was, word die meeste van die hospitalisasie en behandelings deur Workers Compensation Assistance (WSA) betaal.
“Dit neem baie lank om goedkeuring vir enige prosedure of behandeling van die WSA te kry. Hulle betaal ook nie vir enige iets wat buite die hospitaal gekoop moet word soos pleisters, verbande en die spesiale kouse nie,” vertel Yolanda.
Al die ekstra uitgawes is besig om ‘n tol te eis op hul finansies. Yolanda sê hulle kan nou nie meer nie.
Een van haar seun se vriende, Ruan Harmse (19), het besluit om ‘n plan te maak en het by die geregistreerde niewinsgewende organisasie, UBEE4ME gaan aanklop vir hulp.
Die direkteure het besluit om hom te help om fondse vir Bertie se mediese onkostes in te samel. Daar word verskeie projekte beplan, maar vir eers gaan hul staatmaak op donasies wat direk in UBEE4ME se rekening inbetaal word.
Rekeningnaam: U BEE 4 ME NPC Rekeningnommer: 1234 826 054 Bank: Nedbank Verwysing: Bertie
