Local newsNews

Lammetjie, die skape en boeresport

Wat is dan nou lekkerder as bietjie boeresport om eksamenstres te verlig? Laerskool Totius het heerlik gespeel en 'n paar skape dopgehou.

VANDERBIJLPARK – Dit was ‘n anderste Vrydag by die Laerskool Totius. Van vroeg af was die opgewondenheid aanvoelbaar en is daar al geloer of die twee skape nog nie opgedaag het nie.

‘n Jongman maak gereed om ‘n rosyntjie so ver moontlik te spoeg. Dit was die meer aanvaarbare aanpassing van die tradisionele bokdrolspoeg. Foto’s: Gerda Bruinette

Teen 12:00 was almal uiteindelik op die sportveld, al die stalletjies en speletjies gereed, en het die twee skapies rustig langs die bakkie gras gevreet. Die dag het amptelik Lamloop geheet.

Die doel was fondsinsameling, maar ook om die onderwysers en kinders bietjie kans te gee om hulself te geniet in die winterson voordat eksamens toesak. Die verskillende klasse het in graadverband aan die speletjies deelgeneem.

Chrizaan Nel konsentreer om die eier op die lepel te hou.

Daar was bone sakkies gegooi, eier-op-die-lepel resies gehou, rosyntjies gespoeg, tougetrek en driebeen-resies gehardloop.

Die ouer grade het die driebeen-resies nogal half reggekry, maar die juniors se koördinasie was nie heeltemal so in die kol nie. Daar is neergeslaan, gekruip, gehop en baie gelag.

Oral het die personeellede ywerig aangemoedig en selfs meegedoen. Intussen het Totius se gelukbringer, Lammetjie (ten spyte van die warm wintersdag) met kostuum en al deelgeneem waar hy ook al kon.

Die skool se gelukbringer, Lammetjie, het dapper aan alles van die toutrek tot die driebeen-resies deelgeneem, ten spyte van die warm kostuum.

Waar pas die skape in? Wel, so neffens die atletiekbaan is daar wit blokke met nommers op die gras geverf. Die gedagte was dat die skape oor die stuk grasperk moes wei en waar hul, met permissie gesê, ‘n hopie gelos het, is daardie nommer as wenner aangewys.

Nie dat die skape hul wou laat aanjaag het nie. Van 13:30 het hulle rustig hul gang gegaan voordat hulle uiteindelik die kaartjiehouer van AA24 die wenner gemaak het.

Lammetjie hou ‘n ogie oor die twee skapies wat die lamloop moet doen

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button