‘n Nuttige nuwe rekord vir Vlytige Vingers
207 Komberse in een jaar en elkeen hou nou iemand warm.
SASOLBURG – Elke jaar brei vroue van so ver as Reitz, Tshipise, Groblersdal en Hartenbos blokke wat hul aanstuur Vaaldriehoek toe. Die blokke word dan deur ‘n groep vroue wat bekend staan as die Vlytige Vingers aanmekaar gehekel.
Daar is natuurlik ook van hulle wat, sommer self, komberse ook brei. Nie enkelbedkomberse of kniekombersies nie, dubbelbedkomberse.
Daar word met ywer vroegoggend opgestaan en vir mekaar boodskappe oor hul WhatsApp-groep en selfs die radio gestuur, voordat hul begin om hul dag se blokke te brei of te hekel.
Verlede jaar het hul sowat 125 komberse aan verskeie liefdadigheidsorganisasies uitgedeel. Daardie dag het Hettie Pretorius verklaar in 2025 gaan hul 200 komberse uitdeel.
Verlede Vrydag was dit weer sulke tyd. Die pragtige komberse is op die DP de Villiers-stadion se rugbyvelde uitgepak en 11 instansies kon self hul komberse kom haal.
Daar het 207 komberse ‘n kleurryke tapyt gevorm en van die dames wat gehelp het met die breiwerk het trots nadergestaan om almal se handewerk te besigtig.
Hul opper verskeie redes hoekom hulle soveel tyd aan die projek bestee. “Elke kombers wat klaar is, is vir nog ‘n warm lyfie.” “Dit gee my ‘n rede om op te staan.” “Dis is ‘n lekker gevoel wanneer al die komberse so mooi uitgestal lê.” “Dit gee my ‘n rede om nie huis skoon te maak nie.”
Dit was maar net van die kommentaar wat hul so in die bondel gelewer het. Vlytige Vingers het Pieter en Johan van Essential Hardware bedank omdat hulle al die komberse aangery het, asook Ruan van Public Eye wat met sy hommeltuig lugfoto’s geneem het.
Al wat hulle vra is nog wol. Enige wol. Sodat hulle volgende jaar meer blokke kan brei vir nog meer komberse om mense deur die koue wintermaande te help. Kontak vir Melinda Hanekom by 083 382 1790 om wol te skenk of om deel te word van die projek.
